Ons lééf God se liefde!
Ons word nie bedien nie, óns dien!
Ons almal is medewerkers in diens van die Here.

Die “storie” van die NG Kerk Windhoek-Oos sedert 1996, toe konkreet en baie spesifiek begin is om oor die gemeente se roeping na te dink, kan met die diagram hier langsaan voorgestel word. .

Belangrik om van die gemeente se storie te verstaan, is dat dit ‘n proses is, oor al die jare ‘n beweging is van wat ons moet doen (“doing”) na wie ons is (“being”) en steeds word (“becoming”). ‘n Beweging van doelstellings na waardes, na gewoontes. Algaande en sonder dat ons dit besef het, het ons leer verstaan dat christenwees méér gaan oor wie ons is as oor wat ons doen, dat wat ons doen alles te make het met wie ons is, dat christenwees uiteindelik alles te make het met elkeen van ons se verandering … om te wees en word wie ons reeds in Christus is.
Bogenoemde is ‘n sikliese proses wat min of meer soos volg voorgestel kan word:

Ons roeping: Ons lééf God se liefde!
Ons lééf hierdie roeping deur vier kanale ….

Lewe van aanbidding

Elke byeenkoms in en van die gemeente is ‘n aanbiddings-geleentheid waar God ons ontmoet en ons Hom aanbid. Hierdie ontmoeting loop uit op ‘n daaglikse lewe saam met God, ‘n voortdurende bewustheid van sy teenwoordigheid.

lewe van VERKONDIGING

Alles wat ons is en doen, vertel van God, die Vader van Jesus Christus wat sy lewe gegee het om ons van ons sondes te verlos en uit die dood opgestaan het om vir ons nuwe lewe te gee.

lewe van GEMEENSKAP

Ons is deur onvoorwaardelike liefde aan medechristene verbind. Ons doen moeite om hierdie bande te versterk en uit te bou. Ons ondersteun, versorg en gee om vir mekaar.

lewe van DIENS

Ons dien alles en almal in God se skepping met selfverloenende dade van liefde. Die gemeente bestaan nie ter wille van haarself nie, maar ter wille van die Een wat gekom het om te dien.

Hierdie vier kanale kry gestalte in sewe doelstellings ….

1.Godsfokus: Ons leef en bestaan voor die lewende God. Ons eer Hom, dien Hom en gehoorsaam Hom. Hy bepaal ons identiteit. 

2.Waardes en gewoontes: Ons leef aan die hand van ‘n stel kernwaardes en oefen gewoontes in wat gestalte en vorm gee aan die gemeente se roeping. Hierdie waardes en inoefening van gewoontes word in die lewe van die gemeente gevestig. 

3.Netwerke en tegnologie: Ons vorm, ontgin en benut netwerke en tegnologie so wyd en so deeglik as moontlik in diens van God se koninkryk, in die uitleef van God se liefde.

4.Oorskryding van grense: Ons definieer grense (denkbeeldige / onsigbare grense wat ons om onsself trek, sowel as die fisiese grense, die grense van ons gemaksones) en steek dit doelbewus oor in navolging van Christus. 

5.Nood van die wereld: Ons neem die nood van die wereld ernstig op, leer ken en identifiseer dit, stel onsself daaraan bloot, bly daarvan bewus en dra by tot die verligting van hierdie nood. Ons bestaan nie ter wille van onsself nie. 

6.Mobilisasie van gemeente: Die hele gemeente word gemobiliseer en begelei tot die uitlewing van die gemeente se roeping. 

7.Bestuur: Die bestuur en funksionering van die gemeente word gehandhaaf en uitgebou terwyl ons krities bly soek na ‘n ideale benadering. 

Ons gee gestalte aan die sewe doelstellings deur aan die hand van sewe kernwaardes te lewe .

1.Godsfokus: In alles waarmee ons besig is, is ons fokus op God, ons Here en Koning, die Vader van Jesus Christus. Elkeen van ons glo in Jesus Christus as enigste Verlosser. 

2.Die Bybel: Ons erken en aanvaar die gesag van die Bybel as die Woord van God waardeur Hy Homself bekendstel en bring dit doelbewus ter sprake in besluitnemingsprosesse. Ons lees en bestudeer die Bybel.

3.Toewyding: Wat ons ook al doen, doen ons van harte – “soos vir die Here”.

4.Integriteit: Ons lewe met integriteit. Ons woorde en ons dade stem ooreen. 

5.Diens: Ons is ingestel op diens. 

6.Onderlinge verhoudings: Onderlinge verhoudings is vir ons belangrik. Ons het mekaar nodig, leef oop en eerlik met mekaar en doen moeite om onderlinge verhoudings in die gemeente te versterk en uit te bou. Ons skinder nie van mekaar nie en sorteer ongemaklikhede met mekaar en onderlinge konflik uit. Ons aanvaar verantwoordelikheid vir mekaar en help mekaar om te wees wie ons in Christus is.  



Algaande het ons leer verstaan dat dit blykbaar tog moontlik is dat die uitleef van die gemeente se roeping deur die nastreef van doelstellings en die aanvaarding van waardes ons nie noodwendig verander nie. Dat ons dus aan die gemeente se ropeing kan aandag gee, selfs ernstig daaroor kan wees, sonder om self daardeur verander te word. So is ons gelei tot die inoefening van ses ropeingsvormende gewoontes. Hier val die klem in die lewe van die gemeente. 

Ons word stil by God /
We pause to be with God

Ons ‘stop’ gereeld. Ons luister na God. Ons praat met God.
(Daaglikse ondersoek / Daily exam)


Ons praat oor God /
We speak about God 

(Getuienis / Witness)


Ons vra Godsvrae /
We ask God questions

Wat het ek van God geleer? Waar is God besig? What in heaven’s name is God up to?
(Onderskeiding / Discernment)


Ons ag alle mense /
We value all people

Ons maak met mense en ons dink oor mense soos Jesus. Ons respekteer mense. Ons maak mense deel van ons groepe. Ons neem mense ernstig op… so ernstig dat ons selfs met hulle mag verskil. 
(Gemeenskap / Community)

Ons luister na ander / 
We listen to people

Ons maak seker sover moontlik dat ons hoor en gehoor word. Ons luister ook na ‘gevoelens’. Ons maak seker dat dit wat ons hoor, korrek is. 
(Nederigheid / Humility)

Ons verwelkom alle mense /
We welcome all people

Ons stel onsself oop vir ander mense. Ons tree teenoor ander mense op met die wete dat God in hulle aan die werk is. Ons onthou dat God ook in vreemdelinge na ons toe kom. Ons sien ander mense as geskenke van God. 
(Gasvryheid / Hospitality)