Dade van Deernis (DVD’s)

Normaalweg herdenk ons die stigting van die NG Kerk Windhoek-Oos (in 1960) aan die einde van Oktober. Stigtingsdag-herdenking dien as die afskop vir die dade-van-deernis-projek en word telkens gekoppel aan hoeveel jare die gemeente reeds die voorreg het om te bestaan. In 2014 was dit byoorbeeld 54 Dade van deernis en in 2024, 64 Dade van Deernis. Die projek is ‘n uitdaging aan elke persoon wat met die NG Kerk Windhoek-Oos assosieer om in die tydperk vanaf gemeentestigtingsherdenking totdat die skole in die volgende jaar weer begin, doelbewus met deernis teenoor medemense op te tree … ten minste soveel keer soos hoeveel jare die gemeente bestaan. Ons kontroleer nie mekaar nie, maar herinner mekaar so dikwels as moontlik aan die uitdaging en mense teenoor wie deernis bewys word, hoef ook nie noodwendig te weet van wie dit kom nie. Die moontlikhede is eindeloos en dit is baie pret ook… en miskien bring dit ons in die permanentegewoonte om ELKE dag met deernis te leef!

Voorbeelde van DVD’s uit die afgelope jare (en daar is baie meer, want ons weet mos nie regtig wie wat gedoen het nie): 

*Die vullisverwyderaars van die munisipaliteit het elkeen ‘n roomys met ‘n spesiale ‘dankie’ ontvang.

*Kinders uit behoeftige gesinne se skoolgeld is betaal.

*Ekstra tyd is spandeer om te gesels met karwagte en te hoor wat hulle name is, of hulle kinders het en van waar hulle kom.

*Mense soos kelners, petroljoggies, winkelpersoneel ens se name is geleer en dan op hulle name aangespreek.

*Onderwysers is deur kinders bederf.

*Kuiers by mense wie alleen is.