Kinders

By Windhoek-Oos is kinders volledig deel van die gemeente net soos bejaardes, mans of vrouens of wie ook al by die gemeente inskakel.
Ons dink nie oor kinders as die kerk van môre nie (net soos wat ons nie oor bejaardes dink as die kerk van gister nie). Kinders (van alle ouderdomme) is vandag reeds die kerk, volledig deel van die liggaam van Christus. Dit beteken kinders maak deel uit van die gemeente se dienswerk en groepe (weereens net soos enigiemand anders wat by die gemeente inskakel) en eredienste (die nagmaal ook). Kinders woon dus eredienste saam met die res van die gemeente by. Daar word nie afsonderlike eredienste vir verskillende ouderdomsgroepe gereël nie.
Wat agter hierdie manier van dink lê, is onder andere dat ons oordeel dat mense in verskillende lewensfases mekaar nodig het en dat die oordra van die evangelie meer te doen het met lewensoordrag as met kennisoordrag. Ons het ook ‘n gemeentewaarde oor verskeidenheid, wat lui:
Ons maak doelbewus ruimte vir verskeidenheid as gawe van God. In hierdie gemeente dien verskeidenheid die eenheid. Daarom streef ons doelbewus daarna om alle gemeentelede (ouderdomsgroepe, geslagte, rasse, tale, gawes) geleentheid te bied om die Here te aanbid en hulle geloof uit te leef.
Ons wil graag hê dat kinders oor Windhoek-Oos sal dink as “ons plek” … net soos wat ons graag wil hê dat almal wat by die gemeente inskakel so oor Windhoek-Oos sal dink.
Ouers, só glo ons, is in die eerste plek verantwoordelik om hulle kinders in te lei en te begelei in ‘n liefde vir die Here, om dissipels van Jesus Christus te wees. Die kerk se verantwoordelikheid is om ‘n ruimte of ruimtes te skep wat ouers hiermee help en hierin ondersteun.
Met bogenoemde in die gedagte nog enkele opmerkings …
• Die doop en alles rondom die doop, doopgesprekke en begeleiding van ouers om hulle kinders vanuit die doop as inlywing in die kerk en as God se belofte aan hulle kinders in te lei in ‘n lewe met die Here, is vir ons baie belangrik en geniet baie aandag.
• Aan die regterkant agter in die kerkgebou (wanneer jy by die voordeur van die kerkgebou inkom) is sitplek vir ouers met kleiner kinders. Die banke is verder uitmekaar om beweging makliker te maak.
• Een keer per maand is daar ‘n saalerediens (sien onder “Wat doen ons? – “Diensgroepe”) vir kinders tot en met graad 4 en hulle ouers. Saaleredienste het ten doel om jonger kinders en hulle ouers in te lei in die gemeentelike eredienste (in die kerkgebou) as ontmoeting met God.
• Die VOOMA groep (sien onder “Wat doen ons? – Diensaksies”) stimuleer gesprek wat ons help om dit wat ons van kinders glo, te praktiseer.
• Junior Kategese wat fokus op mense in die ouderdomsgroep graad 1-3 en Junior Acts met ‘n fokus op die ouderdomsgroep graad 4-7 is ‘n hulpdiens vir ouers. Die klem hier val op die Bybel, Bybelkennis en Bybelvaardighede. Soos eersgenoemde groepe is Acts ook ‘n hulpdiens vir ouers en fokus op mense van hoërskoolouderdom. Die klem hier val op die basiese vaardighede van Christenwees. Lees meer oor laasgenoemde drie groepe onder “Wat doen ons? – “Diensgroepe”. .