Leierskap

Tussen al die gedeeltes uit die Bybel wat ons denke oor leierskap beïnvloed, speel Joh 21:15-22 ‘n belangrike, samevattende rol en wat ons oor leierskap glo, kan grootliks in hierdie gedeelte gevind word. Wat in hierdie Skrifgedeelte gebeur, verteenwoordig ‘n baie belangrike oomblik in die lewe van die kerk. Hierdie mense wat hier hoor wat hulle hoor en sien wat hulle sien, is dié wat die kerk “begin”, voor loop, lei (vergelyk hier die opdrag oor die lammers en die skape).

Opmerkings oor ons denke oor leierskap:

• Leiers is oortuig van God se liefde vir hulle. Glo dat die Here eerste na mense toe kom en kom uitsorteer wat verkeerd is. Glo dat die Here Hom met ons versoen terwyl ons net mooi die teenoorgestelde verdien.
• Leiers het die Here lief en volg Hom. Belangrik: Nie leerstellings of goeters of ‘n lewenstyl of leefwyse of goedheid of wat ook al nie, maar Iemand, die lewende, opgestane Here. Daarom is onderskeiding van waarmee die Here besig is, ‘n fyn luister na sy woorde, vir leiers belangrik. Leiers is nie noodwendig mense met antwoorde nie, maar mense wat Iemand ken. Leiers neem hulleself en hulle vermoëns nie so ernstig op soos wat hulle die een vir Wie hulle volg, opneem nie.
• Leiers vólg Hom. Leiers is in die eerste plek – voordat hulle lei – volgelinge. Volgelinge van Jesus Christus. Die Here stap voor en leiers agterna.
• Leiers weet dat volgelingskap nie in die eerste plek oor ander gaan nie, maar oor hulleself. Vergelyk hoe Jesus vir Petrus reghelp as hy wonder wat van Johannes gaan word. Bekommer jou nie nou oor Johannes nie. Het jý My lief? Dít alles beteken dat leiers nie mense is wat planne maak vir ander om uit te voer nie, nie wonder en vrae het oor ander nie, maar wat self die pad wat hulle sien, loop, wat die Here op daardie pad volg, wat self gaan op die pad waarop hulle ander lei. Leiers loop wel voor, maar nie héél voor nie. Héél voor is die Here se plek.
• Leiers volg die Here sonder om om te kyk of ander mense ook volg. Hulle volg Hom omdat hulle glo dat Hy hulle roep om Hom te volg … ongeag of ander mense dit in orde vind en bereid is om saam te loop. Hulle loop die pad agter Jesus aan selfs al is hulle al een wat dit doen. Die “sukses” van hulle leierskap lê nie by hoeveel mense saamkom nie, maar by gehoorsaamheid aan God.
• Leiers volg die Here omdat Hy roep, omdat hulle Hom liefhet. Nie om raakgesien te word of gereken of waardeer of bedank te word nie. • Leiers is dikwels brose mense. Mense wat beweeg tussen vergifnis en roeping, tussen skuldbelydenis en die opneem (van voor af aan) van die Here se roeping.
Vir ‘n verhelderende beeld/prentjie van hoe ons oor leierskap dink, kyk gerus – saam met die lees van Joh 21:15-22 – na die videosnit “First follower: Leadership lessons from dancing guy”