Die Bybel

Ons onderskryf die gereformeerde belydenisskrifte sowel as die drie ekumeniese belydenisse (Apostoliese Geloofsbelydenis, Geloofsbelydenis van Nicéa, Geloofsbelydenis van Athanasius). Ons verstaan dít wat in hierdie belydenisskrifte oor die Bybel gesê word (samevattend) soos volg: Die Bybel is die woorde van God oor Homself. Deur die Bybel openbaar God Homself, stel Hy Homself bekend. Die Bybel gaan dus oor Iemand, nie in die eerste plek oor goeters of leerstellings of ‘n lewenstyl nie. Hiermee hang saam dat die klem in die Bybel val op wat God doen en gedoen het eerder as op wat ons doen of moet doen.Dít beteken dat wanneer ons die Bybel lees, ons in die heel eerste plek vra na wat ons van God leer of ontdek, na hoe ons Hom leer ken in en deur dit wat ons lees en dat wat ons van Hom ontdek of leer, die bril word waardeur ons alles wat ons lees, sien en verstaan.