• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel

Belydenis: Wat ons glo oor selfdegeslag-verhoudings

1. Ons bely

  1. Dat ons geneig is om veralgemenend oor mense te praat, in groepsterme as byvoorbeeld “homoseksuele” of “lesbiese mense” (of selfs neerhalende benamings te gebruik) asof hier sprake is van homogene soort groepe, en dan te vergeet dat elke mens uniek is, uniek beeld van God is, mense met name en gevoelens, met families, en elkeen ‘n eie lewenspad en lewensstorie. Ons is geneig om te dink en praat in terme van “ons” en “hulle”. Ons is geneig om nie aan ander te doen wat ons aan ons gedoen wil hê nie. Dit pas nie by ons om so te wees nie.
  2. Dat ons lui is om die Bybel werklik te lees en te lees en te lees asof ons regtig vir God in en deur die Bybel leer ken, dat ons geneig is om oppervlakkig met die Bybel om te gaan, na kitsantwoorde en kitsresepte te soek, en te lees en luister asof dit in die eerste plek woorde vir ander is. Ons is geneig om eerder met reëls en wetmatighede te wil lewe (en gevolglik die Bybel te lees as ‘n reël- of wetboek) en ons lewens daarvolgens in te rig as om Iemand te volg. Dit pas nie by ons om so te wees nie.
  3. Dat ons geneig is om eerder besluite te neem op grond van die praktyk, ons omgewing, ons ervarings en hoe ons oor mense voel (hoe bekend of onbekend mense vir ons is) as op grond van die teks waarvan ons bely dat ons daarby lewe. Dit pas nie by ons om so te wees nie.

2. Ons besef

  1. Dat daar wêreldwyd in die kerk van Christus geen eenstemmigheid (eerder groot verskille en direk teenoorstaande standpunte) is oor selfdegeslag verhoudings en hoe daaroor gedink behoort te word nie en dat dít, sowel as die manier waarop die gesprek gevoer word, geneig is om te lei tot verdeeldheid, vyandskap, verdagmakery, verwarring, onsekerheid en alles wat hiermee saamgaan. Ons wil in ons nadenke oor hierdie aangeleentheid nie dáártoe bydra nie.
  2. Dat, al lyk van die tekste in die Bybel wat moontlik oor selfdegeslag verhoudings handel, dalk vir ons baie voor die hand liggend en al kry ons dalk uit die Bybel die indruk dat daar nêrens in die Bybel in dieselfde positiewe sin as wat oor die huwelik tussen een man en een vrou gepraat word oor selfdegeslag verhoudings gepraat word nie, daar baie Christene (net so ernstig soos ons, wat net so graag soos ons die Here wil eer en dien en volg en wat net soveel brille as ons op het) is vir wie dit nie so voor die hand liggend is nie, wat net so seker soos ons, reken – ook op grond van die teks – dat daar ander hoeke is waaruit die tekse gelees behoort te word, dat daar méér in gesien behoort te word.
  3. Dat die gesprek oor selfdegeslag verhoudings en alles wat daar rondom gebeur waarskynlik nie net met die saak op die tafel te doen het nie, dat dit ook ‘n simptoom is van ten minste (1) die feit dat die Bybel en hoe met die Bybel omgegaan behoort te word nie deur alle mense op dieselfde manier verstaan word nie, dat juis dít nie ewe goed deur almal van ons begryp word nie en dat dít die gesprek baie bemoeilik en (2) die gevoel van baie mense dat alles verander, agteruitgaan en inmekaar- en uitmekaarval en dat daar ten alle koste briek aangedraai moet word. Baie mense wêreldwyd soek na sekerhede, na wat vasstaan, na ‘n soort greep op wat as die die werklikheid beskou word.
  4. Dat daar waarskynlik nie spoedig in die kerk van Christus klinkklare duidelikheid en eenstemmgheid oor hierdie aangeleentheid gaan kom nie, dat “demokratiese” meerderheidstemme by vergaderings, goeie argumente, drukgroepe (“lobbying”) van watter aard ook al, kompromieë, om te maak of die aangeleentheid nie bestaan nie, dit te ontken, verskille te probeer versag deur iets te sê soos “eintlik stem ons tog almal saam” en/of watter ander bekende manier ons ook al het om konflik en verskille te probeer oplos, waarskynlik nie gaan help nie.
  5. Dat ons waarskynlik geroep word om nou – tot tyd en wyl klinkklare eenstemmigheid in die kerk van Christus oor hierdie aangeleentheid bereik is - te onderskei op watter pad die Woord (gelees in die sin van Joh 1:1-4,14,18), die Here, ons nóú roep, hoe ons Hom hier en nóú moet volg, hoe ons hier en nóú geroep word om mense van God te wéés.

3. Ons glo

  1. Dat alles nie onseker en onduidelik is wanneer ons oor selfdegeslag verhoudings praat nie. Daar hoef en mag geen onsekerheid of twyfel of onduidelikheid te wees oor hoe Jesus voel oor mense nie (mense van elke moontlike soort, alle geslagte, rasse, kulture, ouderdomme, tale, oortuigings, seksuele voorkeure). Hy het ons sonder voorbehoud, volledig, onvoorwaardelik, resloos lief. Dit is vas en seker. Ons word geroep om Hom hierin na te volg. Hierdie vaste punt bepaal alles wat ons dink en doen en sê wanneer ons dit het oor selfdegeslag verhoudings.
  2.  Dat mense in die teenwoordigheid van Christus verander, Christusgelykvormig word, dat die beeld van God in Jesus se teenwoordigheid in ons herstel word, dat mense verander terwyl hulle na Jesus Christus kyk. Dat ons optrede teenoor mense, hoe ons oor mense dink en voel en na hulle kyk, wat ons vir en oor hulle sê, hierdeur bepaal moet word.
  3. Dat ons geroep word om in die eerste plek met mense oor Hom te praat eerder as oor hoe hulle is, oor wat hulle doen of nie doen nie. Die gesprek oor selfdegeslag verhoudings is ‘n geleentheid om oor God (Vader, Seun, Gees) te praat, oor hoe Hy is.
  4. Dat die 6 gemeentegewoontes - wat ons glo ons van die Here ontvang het - ons hierin help.
  5. Dat hoe en wie ons is (ook teenoor mense in selfdegeslag verhoudings), belangriker is as ons stand-punte oor mense in selfdegeslag verhoudings.

4. Ons onderneem

  1. Om ons voortdurend toe te wy aan Christus, aan die inoefen en uitleef van die gemeentegewoontes, sodat ons soos Hy teenoor alle mense sal optree, oor mense sal dink, mense sal sien, want dit is – so glo ons – genoeg wanneer die gesprek oor selfdegeslag verhoudings op die tafel is.