• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 8 September 2019

Evangelie in praktyk

Gelei deur: Hendrik Koekemoer

Skriflesing: Filemon

Skriflesing:      Filemon

PreekEvangelie in praktyk

Paulus is in die tronk. Om in die tronk te wees, was in daardie tyd nie ’n strafmaatreël soos ons dit vandag ken nie. Dit was nie ’n vonnis op sigself nie. Wanneer iemand in die tronk was, soos Paulus hier, was jy eintlik maar verhoorafwagtend. Jy wag in die tronk om te hoor wat jou lot gaan wees. Jou familie of die gemeenskap het dan ook vir die mense in die tronk gesorg. Paulus kon dus besoekers, soos Onesimus, in die tronk ontvang het, ook mense wat daar na hom kom omsien het.

Dit is nie duidelik waar Paulus in die tronk is nie, maar die nuutste navorsing dui dat die mees waarskynlike plek in Efese was. Efese was aan die weskus van die ou Turkye. Hiervandaan, so 150 km na die binneland toe, kry jy vir Kolosse – vandag nie meer so maklik om te kry nie. In Kolosse bly daar ‘n man met die naam Filemon. Filemon moes nogal ‘n vooraanstaande man gewees het, want hy het immers slawe, of ten minste ‘n slaaf besit. Filemon het iewers onder die bediening van Paulus ‘n Christen geword. Ons weet nie waar, hoe en wanneer nie.

Oor slawerny kan mens mos baie te sê hê. Hoe verskriklik dit ook al by terugskoue is, was dit in daardie tyd glad nie so ‘big deal’ nie. NT Wright verduidelik dit so: Om van iemand in daardie tyd te verwag om byvoorbeeld hulle slawe vry te stel en bloot te laat gaan, sou omtrent dieselfde wees as om van ons te verwag om nou, 9:30 op Sondagoggend, 8 September op te hou om van voertuie gebruik te maak. Ons weet voertuie is nie heeltemal goed vir ons en die wêreld om ons nie – hulle besoedel ons aarde, is gevaarlik en duur, maar op ‘n manier is ons ‘stuck’ met dit, want dit is hoe ons samelewing werk, dit is nou maar hoe dit is. Slawerny was op ‘n manier ook so. Baie mense, en waarskynlik ook Paulus, het so oor slawerny gevoel – alles is dalk nie heeltemal goed en reg daarmee nie, maar dit is bloot hoe die samelewing werk.

Paulus is in die tronk is Efese, Filemon en ‘n baie klein groepie Christene is in Kolosse. Onesimus, wie se naam iets beteken soos ‘Bruikbaar’, as mens dit in Afrikaans sou vertaal, was ‘n slaaf van Filemon. Onesimus het ‘n verskriklik ding gedoen: Hy het van sy eienaar af weggeloop. Daar is mense wat uit die brief aflei dat hy dalk geld of iets gesteel het, maar daarvan is ons ook nie seker nie – hy het waarskynlik die een of ander skade aan sy eienaar berokken. Waarvan ons wel seker is, is: Om weg te loop, was ‘n verskriklike ding om te doen.   Wegloopslawe het heel dikwels met hulle lewe daarvoor geboet, heel dikwels is hulle op die wreedste manier mishandel en selfs doodgemaak. In uiterste gevalle is hulle gekruisig om so as afskrikmiddel vir die ander te dien. Slawe was absoluut niks werd nie, hulle was benede mens-wees, hulle was bloot ‘n besitting waarmee die eienaar kon maak net wat hy wil, soos hy met sy beker en bord of watter besitting ook al kon doen. Niemand sou ‘n oog knip oor wat jy daarmee doen nie, ook nie oor wat jy met jou slaaf doen nie.

Soos dit dan so nou en dan gebeur, vat slawe ‘n kans en loop weg. So het Onesimus ook ‘n kans gevat en van Filemon af weggeloop. Onesimus vlug na die naaste groterige stad, in hierdie geval waarskynlik Efese, om daar te gaan wegkruip. Hier bly hy met die wete dat daar ‘n prys op sy kop is – Filemon of iemand gaan hom die een of ander tyd hier kom soek en heel waarskynlik kry ...

In hierdie tyd, egter, loop hy vir Paulus raak. Ons weet nie hoe dit gebeur het nie, dalk het hy van Paulus gehoor en soort van skuiling by hom gaan soek, dalk het hy ook om die een of ander rede in die tronk beland, ons weet nie. Wat ons wel weet, is dat hy vir Paulus ontmoet en uiteindelik onder Paulus se bediening ‘n Christen word. Paulus en Onesimus word broers, eintlik meer as broers – hulle word ‘pa’ en ‘seun’ van mekaar.

Wat nou gemaak met Onesimus en Filemon se besigheid? Dan skryf Paulus hierdie briefie vir Filemon.   Iemand sê dat as hierdie briefie die enigste was wat ons vanuit die vroeë Christelike kerk gehad het, ons ‘n baie goeie aanduiding sou kon kry oor hoe Christene in die vroeë kerk gelewe het. In hierdie briefie gaan dit oor die evangelie in praktyk! Hier is, nogal vreemd van Paulus, nie lang teologiese argumente nie. Hier is bloot ‘n briefie waarin enige een kan agterkom hoe die evangelie in die praktyk werk.

Ons almal weet nou hoe die wêreld van daai tyd oor slawe gedink het. Ons weet ook baie goed wat met wegloopslawe in daardie tyd gebeur het. En tog, in hierdie briefie lees ons van iets totaal en radikaal vreemd vir die wêreld van daardie tyd: In totale kontras met die gebruike en norme van die dag, kry ons in hierdie briefie met iets wêreldvreemd en radikaal anders te doen. Paulus praat ‘n ander taal: Hy praat nie meer van Onesimus as ‘n ‘wegloopslaaf’ nie, maar as ‘n ‘kind’ en ‘n ‘broer’. Mense se status verander voor hulle oë in die teenwoordigheid van die Here. Jesus word die gemene deler, nie status en ras of wat ook al nie. Waarmee ons in hierdie briefie te doen het, is kontra-kultureel, so radikaal anders, soos dit net by Christene moontlik kan wees.

Paulus skryf ‘n briefie, soos hy meer male gedoen het. “Liewe Filemon. Raai wat? Onesimus? Onthou jy hom nog (Soek jy hom, dalk)? Hy is hier by my – hier staan ek met hom hand om die lyf ...!” Sien julle wat Paulus doen? V 8 – 11. Luister net bietjie hier ...

8Daarom, al het ek in Christus die volste reg om jou op jou plig te wys, 9doen ek liewer 'n beroep op jou op grond van die liefde. Dit doen ek, Paulus, wat 'n ou man is en nou ook 'n gevangene ter wille van Christus Jesus. 10Ek doen 'n beroep op jou in belang van my kind Onesimus. Hier in die gevangenis het ek sy geestelike vader geword. 11Voorheen was hy vir jou nie bruikbaar nie, maar nou is hy baie bruikbaar sowel vir jou as vir my.”

Hy bou hierdie prentjie van Onesimus in Filemon se kop, ‘n prentjie waarin hy heel moet leer om vir Onesimus nuut en heeltemal anders te sien, want hy het vir Jesus ontmoet. Hy teken hom nie meer as ‘n vlugtende slaaf nie, maar as ‘n vriend en ‘n broer ... letterlik as Paulus se hart se punt. 12Ek stuur hom na jou toe terug, en my hart gaan saam met hom.”

Vroeër was hy onbruikbaar, useless, maar nou is hy bruikbaar – hy het nou eers homself geword, geword wat God vir hom in gedagte gehad het. Sien hom raak vir wie die Here hom gemaak het: Vriend, broer, kind, bruikbaar vir ander – Onesimus in die ware sin van die woord.

Getrou aan sy naam, versorg hy waarskynlik ook nou vir Paulus in die tronk. Dit is soos dit gewerk het: ‘n Leerling het vir sy leermeester gesorg. Hierdie verantwoordelikheid sou dus ook by Filemon lê, maar dié is ‘n besige man – hy het seker ‘n besigheid of ‘n stukkie grond wat hom besig hou. Daarom doen Onesimus dit sommer namens hom – ‘dankie dat jy hom vir my geleen het’, sê Paulus tong in die kies.

Dan die opdrag, nee, die versoek: Ontvang hom terug. Paulus sê dat hy die volste reg het om as sy geestelike vader hom te dwing om dit te doen, maar hy wil dit nie so doen nie. Hy pleit eerder by hom om Onesimus terug te neem. Want sien, om iemand te dwing om iets te doen, help jy hom dalk om in daardie spesifieke situasie reg op te tree, maar hy leer nie wat om in die volgende situasie te doen nie, hy groei nie in geestelike volwassenheid en onderskeidingsvermoë nie. Paulus wil nie hê hy moet bloot iets doen nie, nee, hy moet verander. Hy moet iets of iemand anders word – nie wat hy doen is die belangrikste nie, maar wie hy is! Wie jy is bepaal immers wat jy doen, bepaal uiteindelik jou doen en late nie net in ‘n bepaalde situasie nie, maar vir die res van jou lewe. Paulus verwag eintlik dat Filemon méér sal doen as wat hy van hom verwag ...

Stuur hom terug? Wat doen jy, Paulus? Dit is wat moet gebeur: Onesimus moet teruggaan op sy spoor en gaan ‘face’ wat ‘ge-face’ moet word. Deel van sy nuwe lewe as Christen is om vir Filemon in die oë te gaan kyk. Vrede en herstel tussen mense is nie net ‘n skietstilstand waarin mense mekaar oor ‘n afstand moet verdra of verduur nie. Dit is baie meer as dit. Dit is om mekaar in die oë te kan kyk en reg te maak wat verkeerd is. Dieselfde geld ook vir Filemon. Hy moet ook vir Onesimus in die oë kyk. Hy moet hom kan vergewe, hom sien vir wie hy nou is – vriend, broer, bruikbaar. Hoe eenvoudig is dit nie? Dit is immers hoe Christene met mekaar maak.

Paulus gee egter nog ‘n verdere tree: ”As hy jou enige skade aangedoen het of iets skuld, sit dit op my rekening. Ek sal betaal.” Hoe langer Filemon hierdie briefie sou lees, hoe meer hy Paulus se stem daarin hoor, hoe meer sien hy vir Jesus daarin, hoor hy Sy stem, herken hy Jesus se taal en Jesus se grammatika. Hy hoor uitdrukkings soos “Ek sal betaal” of goed soos “In jou plek”. En uiteindelik sien hy nie meer vir Paulus nie, maar vir Jesus, hoor hy nie meer vir Paulus praat nie, maar vir Jesus.

Dit is die evangelie in praktyk! As Filemon die prentjie sien wat Paulus vir kom teken, dan sien hy vir Jesus in die middel staan met sy een arm om die skouers van Onesimus en die ander arm om die skouers van Filemon. En Hy sê vir hulle: Ek is julle pa en julle is my kinders. Daarom is julle broers. Filemon sien ‘n kruis waar Iemand – Iemand met ‘n hoofletter – vroeër ook woorde gebruik het soos “Ek sal betaal” en “In jou plek” ...

Wat Paulus doen, is om die evangelie hande en voete te gee. Die boodskap van die versoenende liefde van God in Jesus Christus, arms uitgestrek aan die kruis, aan Jood en Griek, slaaf en vryman ... te verkondig. Verhoudinge is herstel, skeiding is afgebreek. Jesus is nou die enigste gemene deler ... Filemon, verwelkom hom soos jy my sou verwelkom. As jy hom ontvang, ontvang jy vir my – ons is immers één in Christus. So staan Paulus in die middel, soos Jesus ook in die middel was, sodat daar tussen hemel en aarde, tussen God en mens, en uiteindelik ook tussen mens en mens, versoening kan kom. Die evangelie in praktyk ...!

Filemon se naam beteken immers “om lief te hê” of “om te soen”. Dit is dan glad nie verbasend dat mens graag hierdie verhaal in verband bring met Luk 15, die verhaal van die verlore seun, nie. Daar lees ons van ‘n pa wat sy kind ‘versoen’ ... “The Father does the unthinkable and disgraces himself in taking back the prodigal . . . This is what the gospel does – it takes people to where Jesus was. A place of shame, a place of death, the place of the slave, in order to do something radically new.”

Dan eindig die briefie waarin Paulus vir Filemon sê dat hy solank sy bed kan oortrek. Hy sê: As ek hier uit die tronk uitkom, kom maak ek ‘n draai daar by julle. Ek wil bietjie gaan kyk wat geword het van hierdie evangelie in praktyk. Het dit praktyk geword?

Ongelukkig weet ons natuurlik vandag nie wat gebeur het nie. Die feit dat die briefie oorleef het, sê dalk iets. Die verhaal is waarskynlik oor en oor bly vertel, omdat daar toe wel iets van gekom. Ek verkies immers om dit so te glo.