• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 7 Julie 2019

Om ‘n tweede taal te ken.

Gelei deur: Hendrik Koekemoer

Skriflesing: Gal 6

OGGENDLITURGIE

Vooraf: Ma-muis en haar kindertjies het elke aand in die bos gaan stap. Een aand, toe hulle so om ‘n bossie stap, gebeur wat die ma die meeste gevrees het – hulle kyk in die groot, groen oë van die kat vas en hulle sien net tande en naels – gereed om hulle vir aandete te verslind. Toe kat inbeweeg vir die ‘final kill’, trek die ma-muis weg – uit volle bors en met oorgawe trek ma-muis weg en blaf net soos ‘n hond. Kat is nie net stom-verbaas nie, maar onthou ook sy vorige onderonsie met ‘n hond en vlieg net daar in sy spore om en hardloop letterlik dat jy net ‘n stofwolk sien. By die huis gekom, vra ma-muis vir die kinders wat hulle uit die ervaring geleer het? Hulle het ge-die kant toe en ge-daai kant toe. Uiteindelik sê ma-muis: “Kom ek sê julle wat ons vanaand geleer het: Dit is altyd goed om ‘n tweede taal te ken”. Vandag se erediens gaan oor ‘n tweede taal – naamlik die taal van die liefde!

Skriflesing:      Gal 6

Preek:  Om ‘n tweede taal te ken.

Antiogië was een van die stede in die provinsie Galasië waaraan die Galasiërbrief gerig is. Antiogië was ‘n verskriklike plek om in te bly. Wat inwoners betref, was dit die vierde grootste stad in Galasië. Wat oppervlakte betref, eintlik verskriklik klein – so bietjie oor die drie kilometers lank en een en ‘n halwe kilometer breed. ‘n Groot deel hiervan het bestaan uit openbare geboue, aanbiddingsplekke en parke. Daar het op hierdie stadium, so 50 jaar na Christus, 150 000 mense in die stad gebly – dit is so bietjie meer as 33 000 mense per vierkante kilometer, as my somme reg is. Net om dit in perspektief te stel: Dit is so een en ‘n half keer meer as in Kalkutta ... om nie eens van Namibië se bietjie meer as een persoon per vierkante kilometer te praat nie.

Ons praat dus van ‘n stad wat geweldig oorbevolk was, mense wat in elke hoekie en gaatjie ingedruk is met feitlik geen privaatheid nie. Die meeste gesinne het in ‘n enkele vertrek gebly. Die strate was verskriklik smal – die breedste en spoggerigste was maar nege meter breed. Strate was met diere soos osse en perde gedeel. Daar was geen riolering nie – laat ek julle nou maar die detail spaar van hoe dit gewerk het – maar dit het iets met emmers en vensters te doen ... wees versigtig om nie voor ‘n oop venster verby te stap nie. Omdat water aangedra moes word, word dit nie eintlik op bad gemors nie. As gevolg van al die siektes, peste en plae het mense ‘n baie lae lewensverwagting gehad en die dooies is sommer net op straat uitgesit en soos vullis van die strate verwyder.

Soldate was omtrent die enigste mense wat bietjie geld gehad het en hulle het ‘n skrikbewind in die stad gevoer. Tog bly mense steeds instroom die stad binne, wat weer ‘n aansienlike verhoging in misdaad tot gevolg gehad het. Vreemdelinge haat was aan die orde van die dag, soveel so dat die stad in afsonderlike woongebiede verdeel was met hoë mure tussenin om faksies uitmekaar te probeer hou. Die stad het uit ten minste agtien sulke etniese ghetto’s bestaan. Oproer was aan die orde van die dag en niemand het dit gewaag om na donker die huis te verlaat nie.

In hierdie stad, om Prof Dirkie Smit se woorde te gebruik, word Christene dan geroep om Christelik te lewe. Dit doen Paulus in sy Galasiërbrief deur die Christene te herinner aan wie hulle regtig is. Paulus se hele brief het eintlik net een deurlopende tema en dit is die hele saak van identiteit. Wie is die gemeentes in Galasië? As hulle nie besef wie hulle is nie – wie die Here hulle gemaak het nie, help dit nie eers om met hulle te praat oor die Christelike lewe in ‘n plek soos Antiogië nie.

Wie is hulle en wie is ons? Vir Paulus is dit verskriklik belangrik dat elke leser – en hoorder – sal weet dat Jesus Christus, deur sy dood en opstanding, van ons nuwe mense gemaak het. Jesus het vir ons ‘n nuwe lewe, ‘n alternatiewe lewe geskenk. Die ou mens is dood en begrawe – dit is in ons doopwater verdrink en uit daardie selfde doopwater het ‘n nuwe mens opgestaan. En dit is alles ‘n present uit die hand van die Here. Hierdie lewe word dus nie bepaal of aan ons voorgeskryf deur ons gehoorsaamheid aan ‘n klomp wette of gebruike nie, nie deur die besnydenis of enige ander gebruik of ritueel nie. Ons lewe van die genade uit die hand van die Here self.   Daar is niks om te verdien nie, alles is ‘n stuk genade uit die hand van die Here self. Ons doen nie ‘n klomp wonderlike goed om gered te word nie, ons doen dit omdat ons reeds deur die genade gered is! Hierdie is die lewe van absolute vryheid waarvan Paulus ons leer. Ons is nie meer slawe van enige iets of enige iemand nie – ons heeltemal vry om die Here alleen te dien. Ons is nie eers meer Jood, Griek, slaaf of vryman nie! Ons almal dien die Here soos een man/vrou.

Ons is immers almal één voor die Here. Hieroor het Hestie twee weke gelede alles gesê. Ons is egter ook vry om net een keuse te hê, en dit is om vir Jesus en Jesus alleen te kan kies. Ons is van niks meer slawe nie, nie van die besnydenis of Joodse wette of wat ook al nie. Hieroor het André verlede week alles gesê. Nee, ons is bevry daartoe om vir Jesus en Hom alleen te mag dien, selfs in ‘n plek soos Antiogië, of Windhoek, of Katutura ... Christene is vrygekoop deur die bloed van Jesus om soos Christene te lewe. Daar is ‘n nuwe wet waartoe ons bevry is, ‘n wet wat al die ander ‘moets’ en ‘moenies’ vervang, en dit is die wet van Christus! Mense, ons ken ‘n tweede taal – hierdie tweede taal, is die wet van Christus, dit is die taal van die liefde sê Gal 5: 14: “Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”

Soos in Antiogië is dit egter nie die taal wat ons elke dag daar buite by die werk en in die strate hoor nie.   Daar word steeds in ons eerste taal gekommunikeer. Dit is die taal van “onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge”. Dit is die moedertaal van die ou mens. Maar ons, ons word geroep om ‘n tweede taal te praat. Teenoor hierdie eerstetaalsprekers, praat die gemeente van die Here Jesus die taal van die liefde, ‘n taal van “vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing”. Ons lewe word gerig deur hierdie nuwe wet, die wet van Christus. Ons praat ‘n tweede taal, eintlik meer as ‘n tweede taal: Ons praat eintlik ‘n gans vreemde taal – ‘n taal wat ons nie uitgedink of gemaak het nie, maar ‘n taal wat die Here vir ons present gegee het, ‘n taal as die vrug van die Gees, dié Gees wat binne in ons kom bly het. Teenoor die ‘werke’ van die vlees, staan die ‘vrug’ van die Gees. Die een klink na moeite, die ander is vanselfsprekend – ‘werke’ is tog moeite, ‘vrug’ is spontaan, vanselfsprekend. Dit, sê Paulus, is wie ons is, wie die Here ons gemaak het!

Dit is wanneer ons dít vergeet, vergeet wie die Here ons kom maak het, dat ons geneig om terug te val in ons eerste taal, die bekende, die taal van die ou mens.

Vandaar die belangrikheid van die eerste paar verse in Gal 6 – eintlik begin die gedagtes reeds by die einde van die vorige hoofstuk. Medegelowiges, ons, word geroep om mekaar se laste te dra en ons doen dit met deernis en met ‘n sagte hart. Ons doen dit met die wete dat niemand van ons beter as die ander is nie, daarom kom ons nie uit die hoogte op mense af om hulle reg te help nie, ons is nie verwaand of afgunstig nie en ons verlustig ons nie in iemand anders se val nie, nee, daardie is tog so ‘eerstetaal’, mense wat ‘n tweedetaal ken dra mekaar se laste en gee so uitvoering aan die wet van Christus. Ons doen dit met ‘n stuk broosheid en nederigheid omdat ons weet dat ons God se presente vir mekaar is. Die kans om terug te val in ons eerste taal, is vir ons almal ewe groot. Daarom help ons mekaar om mekaar se laste te dra. Om mekaar se laste te dra beteken letterlik om jou skouer onder die vrag van iemand anders in te wurm, sodat hy of sy ligter deur die lewe kan gaan.

Wanneer ons normaalweg dink aan ‘iemand se laste dra’, dink ons aan baie praktiese hulp vir baie praktiese goed. Iemand dra swaar aan iets wat oor sy of haar lewe gekom het, nou help ons hom of haar bietjie uit. Iemand se kar breek en dan leen ons eers een van ons karre vir hom, of iemand het nie weiding vir sy vee nie, dan verhuur ons ‘n kamp of twee aan hom. Om mekaar se laste te dra, sluit natuurlik sulke goed in, dit is tog vanselfsprekend, maar hier in Gal 6 klink dit tog of die dra van mekaar se laste oor bietjie meer as net dit gaan. Hier is dit meer ‘n ‘taalkwessie’, om nou weer by my beeld van ma-muis aan te sluit. Hier gaan dit oor die sonde – eerste taal goed. Om iemand te help wie se kar se battery pap is, is wonderlik, maar dit maak nie ons hande vuil nie, dit is selde iets wat ons dit uit die hoogte of uit ‘n posisie van hoogmoedigheid sal doen. Dit is juis wanneer iemand in die sonde geval het, wat ons dikwels nie bereid is om ons hande vuil te maak nie ... nie met so iemand geassosieer wil word nie en so iemand dan eerder aan hulle eie lot oorlaat.

Nee, sê Paulus, ons verlustig ons juis nie in iemand se swaarkry nie, maar ‘dra mekaar se laste’. As God se presente vir mekaar is ons juis geroep om mekaar te help wanneer iemand weens watter redes ook al, ‘n bietjie terugval in sy moedertaal. Wanneer ons in die hitte van die oomblik vergeet wie die Here ons gemaak het, is daar iemand anders wat ons daaraan sal herinner – iemand anders wat sal aanhou om in sy tweede taal met my te praat. Só dra ons mekaar se laste. Môre, oormôre is dit weer ek wat hier in die ghetto’s van Antiogië my taal byster raak, vergeet wie ek is en vergeet dat ek ‘n tweedetaalspreker is. Dan is daar weer iemand anders wat my las help dra, iemand anders wat my bietjie help met die grammatika van die tweede taal.   So help ons mekaar in die aanleer van ‘n nuwe taal.

Dan gebeur die wonder: Hoe meer ons in ons tweede taal kommunikeer, hoe meer ons met mekaar in hierdie tweede taal praat, hoe makliker word dit, hoe meer natuurlik word dit. Jy begin selfs in jou tweede taal dink en droom. So word dit al minder die Antiogiës van ons tyd wat ons taal bepaal, maar ons identiteit in Jesus Christus, nie die wet van ons omstandighede nie, maar die wet van Christus. Dit is immers waartoe ons deur die dood en opstanding van Jesus bevry is.

Só lewe Christene Christelik ... Dit is eintlik so eenvoudig, so vanselfsprekend. Dit is omtrent om soos van ‘n vark te verwag om in die modder te rol. Jy stel nie eintlik enige hoë eise aan hom nie, want varke rol in die modder. Dit is hoe varke is. Sien: Die ‘werke’ van die vlees, teenoor die ‘vrug’ van die Gees. Ons is nou wel nie varke nie, maar ons is immers kinders van God, ingedoop in ‘n nuwe identiteit, ingedoop om ‘n tweede taal te praat.

Gal 3: 26 “Deur die geloof in Christus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword.” Christene is geroep om Christelik te lewe. Christene ken ‘n tweede taal, inderdaad so ... sê die doop! “... mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Of ‘n mens nou besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ‘n nuwe mens is.” (V 14).

Besprekingsvrae

$1·         In Galasiërs wil Paulus die volgende vraag antwoord, nl. Wie is ons? Wat sou jy/julle op hierdie vraag antwoord?

$1·         Wat is die implikasies van hierdie nuwe identiteit in Christus op ons lewe van elke dag?

$1·         Wat verstaan jy/julle onder die opdrag dat ons ‘mekaar se laste’ moet dra?

$1·         Probeer bietjie prakties daaroor dink: Hoe gaan jy/julle ‘uitvoering gee aan die wet van Christus’ deur ‘mekaar se laste te dra’?