• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 6 Oktober 2019

Die Here se werkers word nie op die skouer geklop nie. Ons is so gelukkig dat Jesus ons gekies het om sy dienaars te wees. Ons verdien dit nie. Ons is slawe wat niks verdien nie. Daarom doen ons graag alles wat Hy sê!

Gelei deur: Andre Louw

Skriflesing: Luk 17:1-10

6 Oktober 2019 – Luk 17:1-10

Die Here se werkers word nie op die skouer geklop nie. Ons is so gelukkig dat Jesus ons gekies het om sy dienaars te wees. Ons verdien dit nie. Ons is slawe wat niks verdien nie. Daarom doen ons graag alles wat Hy sê!

LeesLuk 17:1-10

In 17:1-10 kry ons te doen met vier uitsprake van Jesus. Daar is Skrifverklaarders wat reken dat die vier nie noodwendig iets met mekaar te doen het nie, maar Lukas is ‘n baie vaardige verteller wat – as ons na die res van die Lukas-evangelie kyk - nie sommer sonder rede die goed so agter mekaar sou invertel nie. Al het Jesus dus dalk nie hierdie só direk na mekaar gesê nie, haal Lukas dit só aan, om daarmee te verduidelik hoe Jesus was, hoe Hy gedink het. Kom ons begin by die laaste van die vier (‘n soort hoogtepunt in die samevoeging van die vier), kyk daarna en lees dan terug na die ander drie toe.

Ons het dit gelees, maar die vertaling (parafrase) van “Die Boodskap” is op hierdie punt verhelderend. Die opskrif is: Die Here se werkers word nie op die skouer geklop nie.

“Wanneer julle iemand aanstel om in julle tuin te werk en om elke dag vir julle kos te maak, dan moet hy dit doen. As hy na ‘n lang dag se werk in die tuin in die kombuis kom, dan sê julle mos nie vir hom nie: ‘Toemaar, jy hoef nie meer kos te maak nie. Kom sit gou hier op my plek aan die tafel. Omdat jy so moeg is, sal ek van nou af al die kos maak.’

Nee natuurlik nie. Julle sal eerder vir hom sê: ‘Toe, kry gou-gou die aandete gereed. Trek vir jou skoon klere aan en kom bedien ons. As ek en my gaste klaar geëet het, moet jy ook sorg dat alles opgeruim is. Daarna kan jy iets gaan eet.’

Is dit nodig om daardie werker te smeek om elke dag in die tuin te werk of om die kos te maak? Moet julle heeltyd op julle knieë staan en hom soebat? Nee, natuurlik nie.

So gaan dit ook met julle wanneer julle My wil dien. Wanneer julle alles gedoen het wat Ek vir julle sê om te doen, hoef Ek mos nie ‘n sertifikaat vir goeie diens aan julle te gee nie. Nee, julle is mos in my diens. Julle moet doen wat Ek sê. Al wat julle van julle kant af hoef te sê, is: ‘Ons is so gelukkig dat Jesus ons gekies het om sy dienaars te wees. Ons verdien dit nie. Daarom doen ons graag alles wat Hy sê!’”

Die Here kan nie gedien word om iets te kry nie. Hy is nou maar net nie só nie. Daarom dien ons Hom nie om iets te kry nie, maar omdat ons reeds iets gekry het.

Ons dien nie die Here om die ewige lewe te kry nie. Ons dien nie die Here om sy aandag te kry, sodat Hy ons sal raaksien en van ons bewus sal wees en ons sal oppas en vir ons sal sorg nie en sal seker maak dat ons en ons kinders nie siek word nie en ons kinders tog goed sal vaar in die eksamen en uiteindelik ‘n goeie lewensmaat sal kry en die familie nie in die skande sal steek nie. Ons dien Hom nie om sy dankie te kry, of ‘n sertifikaat by Hom te kry wat vir ons ‘n plekkie in die hemel sal verseker nie.

Ons dien Hom, omdat Hy van ons sy mense gemaak het. Omdat ons die voorreg het om deur Hom geroep te wees, om deur Hom gekies te wees om Hom te dien. Hy het ons verlos sonder dat ons dit verdien of verdien het. Sonder dat ons dit verdien het, enigiets gedoen het om Hom te beweeg om dit te doen, het Hy ons geroep, van ons Syne gemaak. Ons dien om dankie te sê vir wat Hy vir ons gedoen het.

Ons dien Hom nie oor óns nie, maar oor Hóm, oor Hý is soos Hý is.

Ons dien nie om raakgesien te word of deur iemand dankie gesê te word of waardering te kry nie.

Ons dien om dankie te sê vir die feit dat Hy ons reeds gesien het, dat Hy vir ons reeds alles gegee het wat ons nodig het om gelukkig te lewe en gelukkig dood te gaan, dat Hy sy lewe vir ons afgelê het, dat Hy vir ons die ewige lewe gegee het.

Ons dien dus ook nie sodat mense vir ons kan dankie sê of vir die erkenning of waardering van mense nie.

Hieroor moet ons baie goed dink, dink ek. ‘n Soeke na erkenning sit dalk dieper in ons as wat ons vermoed. Daar is sielkundiges wat reken hierdie is mense se diepste dryfveer en motivering, waarvoor mense eintlik lewe en doen wat ons doen.

Hoeveel keer het jy nie dalk al gehoor of self gesê, nadat jy iets gedoen het, die een of ander diens gelewer het: Niemand het eers dankie gesê nie. Niemand het dit eers opgelet nie.

Diep êrens binnekant wil ons weet dat ons lewens ‘n verskil maak en wil ons hê mense moet dit raaksien en veral vir ons sê. Dit laat ons voel ons beteken iets, ons lewens maak sin.

Mense, ons dien nie om waardeer te word of om ‘n verskil te maak en te hoor dat ons ‘n verskil maak nie. Ons dien wel om dankie te sê vir die verskil wat Hy aan ons lewens gemaak het. Ons dien – in terme van hierdie storie - vir die voorreg om ‘n slaaf van Hom te mag wees. Daarom dien ons al sien niemand dit nie, al sê niemand ooit dankie nie, al is daar oënskynlik geen waardering nie, al is ek ál een wat dit doen, want ons diens is ‘n dankie vir die diens wat die Here reeds aan my gelewer het.

Ek lewe en dien dus nie om te ontvang nie, maar om te gee, lof en dank en aanbidding en gehoorsaamheid en getrouheid aan die Here te gee.

Is hierdie gedagte nie darem té wêreldvreemd nie? Is dit nie darem té anders as hoe ons weet die wêreld is nie?

As jy in jou lewe al ooit ‘n “counter culture” teks gehoor het, is dit waarskynlik hierdie een. Ons hele lewe is gerig op onsself, op “sien my”! Dit is soos ons wêreld en omgewing werk. Hier werk ons met beloning, met verdienste. Hier kry ons wat ons toekom, wat ons reken ons, of ander, verdien.

Maar, onthou dat ons met God te doen het. Ons moenie van God verwag om net te wees soos die wêreld is en soos ons reken mense is nie. Ons moenie vir God probeer indruk in die skema van hierdie wêreld nie, in wat vir ons verstaanbaar is en hoe ons en ons omgewing elke dag maak nie. Ons het twee of wat weke hier in die erediens Luk 16:15b gelees – Wat deur die mense as belangrik beskou word, is ‘n gruwel voor God.

Die Here kan nie gedien word om iets te kry nie. Hy is nou maar net nie só nie.

Kom ons lees nou – met dít alles in die gedagte – “terug” in die gedeelte …

Mense, ons moet op ons hoede wees (“be alert” - vers 3). Terwyl ons die Here dien omdat ons meen om daaruit iets te kry, is ons ‘n struikelblok vir ander, sonder dat ons dit weet of dit só bedoel, mislei ons mense soos die fariseërs mense mislei het. As ons mense sou leer (en self só sou leef) dat jy die Here dien en dat, omdat jy die Here dien, Hy vir jou sal sorg. As ons mense sou leer dat dit eintlik om jou en jou behoeftes en jou nood en jou “likes” en “dislike” gaan, dat alles, dat die lewe, eintlik om óns gaan of draai, mislei ons mense. Raak húlle, raak óns, god.   Dan dink mense as hulle die Here dien, moet Hy mos sorg dat hulle nie siek word nie. En word hulle wel siek, wonder hulle “hoekom ek?” ek dien U tog al jare lank getrou, hoekom ek, ek verdien dit mos nie, ek verdien mos eintlik die teenoorgestelde. Mense leer dan by ons dat lof en aanbidding eintlik om óns gaan, om ‘n warm gevoel, oor hoe dit óns laat voel en of dit vir óns sin maak en of dit vir óns lekker is. En as ek daardie gevoel nie kry nie, gaan ek elders waar ek meen ek dit wel kan kry, want sien, dit gaan oor my, wat vir my lekker is. En diens moet iets wees waaruit ék bevrediging kry. Dit moet vir mý lekker wees en as dit nie is nie, of ek voel ek het nie die tyd nie, of wat ook al, hoef ek dit nie te doen nie, want ék besluit.

Kyk ons na die verskriklike oordeel oor sulke misleiding (vers 1b,2) waaraan Jesus dink wanneer Hy hieroor praat, is dit duidelik hoe erg dit vir Hom is, hoe onaanvaarbaar Hy dit vind.

Ons moet op ons hoede wees (“be alert” - vers 3).

Ek meen dat vergifnis, waaroor die volgende van die spreuke handel (3b-4), iets is waarmee die meeste van ons die meeste sukkel … as ek aan my spreekkamerwerk oor al die jare dink. Dit is eintlik vanselfsprekend dat ‘n mens daarmee sal sukkel as ék en wat met mý gebeur en hoe ék voel die middelpunt van my lewe is. Hoeveel keer het jy nie al gehoor of dalk ook self gesê nie: Ek kan nie vergewe nie, weet jy wat het hy/sy aan my gedoen? Weet jy hoe seer dit my gemaak het? Ek is in my eer gekrenk, ek is te na gekom! Hy/sy moet eers regmaak voor ek sal vergewe, vergifnis verdien en selfs dán, as ek dink aan watter skade dit aan my gedoen het, dink ek nie ek sal kan vergewe nie.

Interressant is hoe Jesus hier daaroor praat. Julle weet mos dat sewe in die Bybel dikwels dui op volledigheid. As Jesus hier praat van iemand wat sewe maal op ‘n dag verkeerd optree teen jou (vers 4), sou dit ook kon beteken iemand wat die ergste moontlike ding, volledig verskriklik (sewe maal verskriklik) aan jou doen. Waarmee Jesus dan sê dat as iemand so teenoor jou optree, skryf sy/haar skuld af. Moet dit nie teen hulle hou nie. Vee dit uit. Kies om nie weer daaraan te dink nie. En as die persoon herhaalde male na jou toe terugkom nadat jy vergewe het en hy/sy aangehou het om te doen wat hy/sy doen, dan skryf jy dit af. Ook al verdien daardie een dit dus nie, al kan jy nie in sy/haar lewe sien dat hulle jammer is nie, vergewe ons. Jy doen dit sonder dat daardie een dit verdien, sonder om te tel hoeveel keer dit gebeur, sonder om boek te hou van die kwaad.

En Jesus sê dit nie direk hier nie, maar hoekom is dit wat ons doen? Hoekom is dít hoe ons maak en doen? Omdat Jesus, omdat God só is. Só hét Hy met ons gemaak en so máák Hy met ons terwyl ons dit nie verdien nie, terwyl ons die verskriklikste moontlike goed aan Hom doen, maak of ons Hom nie ken nie, sy wil ignoreer, blatant ongehoorsaam is …

Dít is hoe Hy ís en daarom is ons ook só, pas dit by ons om ook só te wees …

Die dissipels sê dan op hierdie punt (en dit is presies hoe jy dalk ook nou voel): Gee ons meer geloof (vers 5). Ons kan nie. Ons het net nie genoeg geloof om só te kan vergewe nie. Dit klink nederig. Dink maar aan hoe jy ook sê of al gesê het dat jy nie iets kan doen nie, jou geloof is nie groot genoeg nie en dit dan nederig bedoel het … omdat jy gevoel het as ‘n mens sê jy kan, reken jy kan gehoorsaam wees, sal dit darem net té verwaand wees.

Jesus se reaksie is interessant. Hy gee nie vir hulle meer geloof nie. Julle kyk alweer na julleself, sê Hy min of meer. Presies soos verwag kan word wanneer jou lewe om jouself draai. Jy kyk op die verkeerde plek … na jouself, terwyl die geheim juis is om weg van jouself af na My te kyk, want jy is mos nie die middelpunt nie, Ek is. Sien, dit gaan nie oor hoeveel geloof jy het nie (so dink ‘n mens as jy in die sentrum is), maar oor in Wie jy glo. Só dink ‘n mens as Jesus in die sentrum is. Kyk na My, selfs ‘n mosterdsaadjie is dan genoeg. Jy het nie méér nodig nie, maar vir Mý. Vergeet tog net ‘n slag van jouself en wat jý reken jy nodig het, en kyk na My.

Mense, godsdiens, christenwees, waar mense dien om iets te kry, of dit nou waardering of erkenning of dankie of ‘n plekkie in die hemel is, sal geen verskil aan die wêreld maak nie en sal nie lei tot die verlossing van mense nie, want só ‘n soort christenwees (as ‘n mens dit enigsins christenwees kan noem) werk maar net soos die wêreld werk en opereer volgens presies dieselfde beginsels as die wêreld … mense kry wat hulle verdien …

Aan die ander kant: Wanneer ons die Here dien nie om iets te kry nie, maar omdat ons reeds by Hom gekry hét, sal ou bome verplant, sal mense vir Gód sien. Die teks praat van moerbeibome, maar ek sê vir julle, ou kameeldoringbome, bome waarvan ons nie gereken het dat dit moontlik is of kan wees dat hulle ooit kan of sal skuif nie, sal verplant, nuwe kleur kry en nuut lewe. Berge sal skuif, sê ek vir julle ...