• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 23 Junie 2019

Galasiërs 3:23-29

Gelei deur: Hestie Hay

Skriflesing: Galasiërs 3:23-29

Galasiërs 3:23-29

Dit is vir my interessant dat Paulus in hierdie gedeelte terug verwys na Abraham en dan sê dat ons almal erfgename is van hom. En toe wonder ek sommer, nou wat is dit dan wat ons erf?

Ek gaan lees toe weer die storie van Abraham en wat vir my nogals opvallend was, is dat Abraham elke keer ‘n plan wil maak om ‘n erfgenaam te kry. Abraham sukkel om vir God te vertrou, en ek moet sê, ek neem Hom ook nie regtig kwalik nie. Vandat God die belofte aan Abraham gemaak het, tot Isak gebore is, het daar 25 jaar verloop. Dit is bietjie minder as wat ek oud is. Dit is ‘n leeftyd vir my, wat Abraham moes wag…. En instussen maak Abraham ander planne. Hy neem eers sy slaaf se seun aan as sy eie. Later gee Sarah haar slaaf aan Abraham sodat hulle saam ‘n kind moet hê sodat die belofte moet aangaan. Maar elke keer sê God vir Abraham, chill, ek het hierdie. Dan wanneer Isak uiteindelik gebore word, dan wil God hê Abraham moet hom offer, al hoe wel God hom mos toe gekeer het. Na Isak se geboorte het Abraham nog 6 kinders gehad. Dit het my toe laat wonder of Isak regtig so belangrik was, ek bedoel sy naam het dan lag beteken? Was Isak die geheieme bestandeel wat gemaak het dat God se belofte aan Abraham sou aangaan of nie. Was Isak soos die persoon wat hierdie belofte sou maak of breek, was Isak soos die persoon wie bepaal het of God sy belofte aan Abraham hou of nie? Of was Isak eerder deel van God se groter plan, was Isak nie eerder deel van die pad wat God met Abraham gestap het, dat Abraham moes besef dat God die inhoud van die belofte is en nie noodwendig Isak as sulks nie. Dat Abraham deur hierdie hele proses nie net die God van die belofte moes leer ken nie, maar ook besef dat God self en geloof in hierdie God, die belofte is, die erfenis is wat Abraham en sy nageslag, wat nou vir ons vandag hier ook insluit, sal ontvang en ontvang het.

Hierdie erfporsie wat ons ontvang is mos ook heel anders as enige ander erfporsie. Gewoonlik is die persoon wie vir jou ‘n erfposie los, oorlede. So heeltemal anders is ons God. Die Een wie ons erfporsie uitdeel LEEF. En ons erfenis, is Hy! En geloof in Hom! Ons is nie weeskinders wat alleen gelaat word in hierdie wereld sonder enige iets om mee te leef nie.

Maar besef ons dit. Dat ons reeds ons erfporsie ontvang het?. En dat Hy ons klaar het en ons Hom klaar het. Ek wil amper so ver gaan as om te sê, as God nooit weer vir ons enige iets doen nie, en ons weet mos Hy is nie so nie, maar as Hy nooit weer vir ons enige iets doen of gee nie, dan het ons klaar gekry wat Hy beloof het. Homself. Jesus. En die geloof om in hierdie Jesus te glo. En dit is genoeg om mee te leef en om mee dood te gaan.

As ons almal een in Christus is, as ons almal erfgename van Abraham is, dan erf ons mos nou ook nie net vir Chrsitus nie, maar ook elke persoon in Wie Chrsitus is…. Dit beteken ons erf ook mekaar. En eerder as om te wens en te hoop dat almal soos ek tog sal wees en almal wat nie soos ek is of dink of doen nie te vermy of te haat, ontmoet ons dalk juis hierdie anderste God, wat goed net heeltemal anders doen, in mense se andersheid, juis dalk in mense wat heeltemal anders as ek is.

Hierdie gedeelte word baie keer deur mense aangehaal wat nie eens noodwendig in Jesus glo nie, maar wat op een of ander wyse benadeel word. Of dit nou is op grond van ras, geslag, jou kultuur, waar jy vandaan kom, jou opvoeding ens. Dan word hierdie gedeelte gebruik om vir hulle regte te veg. Ons is almal een!!

MAar die ding is, Paulus is nie hier besig om te sê dat ons almal presies dieselfde is en dat daar nooit weer iets soos diskriminasie sal wees nie, al weet ons natuurlik dat dit mos ook nie God se wil is nie. Paulus sê hier, ons is EEN IN CHRISTUS. Ons is een, omdat ons dieselfde Iemand ontvang.

Maar wat beteken dit nou eintlik dat ons een in Christus is?

Beteken dit dat ons oor groot sake moet saamstem? As dit is, wat is dan nou hierdie groot sake? Die ding is, al identifiseer ons hierdie groot sake, is daar steeds geen waarborg dat ons oor hierdie groot sake gaan ooreenstem nie? Deur die geskiedenis kon die kerk dit nog nie regtig reg kry nie.

Party mense is van mening dat ons eenheid in ons aanvaarding van mekaar en lief hê van mekaar te vind is. Maar het ons regtig altyd almal lief en aanvaar ek regtig altyd almal, al probeer ek my heel beste?

Dalk is eenheid om ‘n klomp verskillende gemeentes te hê, waar almal in elke gemeente eenders is. Maar dit sou beteken dat so ‘n gemeente verskeidenheid vrees, verskeidenheid wat juis deur God geskep is. Dit beteken daarmee saam dat ek nie eintlik tyd het vir iemand wat anders as ek is of dink nie.

Dalk is eenheid om altyd oor die weg te kom om altyd stil te bly en nooit te baklei nie? Is dit moontlik?

Dalk dalk dalk… Julle hoor dat al my pogings om ‘n definisie vir eenheid uit te dink, heeltemal useless is.

Dalk lê ons eenheid op ‘n heel onverwagse plek. Dalk lê ons eenheid by die feit dat ons nie die wet kon onderhou nie. Dalk lê ons eenheid juis in ons onvermoë om een te wees. Dalk lê ons eenheid nie in ons heilige pogings om te maak asof ek vir almal lief is en met almal oor die weg kom nie. Dalk lê ons eenheid veel eerder in ons onvermoë.. In ons swakhede. In ons sonde….

Dalk bring ons sonde, die eenheid in ons diversiteit. Die een ding wat ons almal in gemeen het, is dat ons die wet nie gehoorsaam kan kry nie. Dat almal van ons, al probeer ons ons heel heel beste, dit steeds net nie kan baas raak nie.

Willie Jonker skryf dat daar ‘n doodse eenvormigheid is tussen ons. Hierdie doodse eenvormigheid, hierdie eendersheid tussen ons, kan ons vansself nie uit ons uit kry nie, maak nie saak hoe hard ons probeer nie. Ons is so dieselfde as dit by sonde kom dit is skoon boring! Ons is almal so verlore, so geestelik dood, so onbeholpe, dit is om van naar te raak. Daar is wraggies geen onderskeid tussen ons nie, die een so sondig soos die res. Dominee, ouderling, onderwyser, student, moordenaar, leuenaar, almal dieselfde…

Dankie tog dan vir hierdie Jesus, wat net lyk my heeltemal die onvermoë besit om te kan onderskied tref tussen my en jou sonde. Dankie tog vir hierdie Jesus wat heeltemal glad nie kan ophou om sy liefde en genade oor ons te laat neer stort nie.

Dankie tog dat Jesus nie kieskeurig is nie en gee nie net sy genade aan sommige sondaars nie. Dankie tog Hy gee dit nie net aan die wat ordentliker as ander kan lewe nie. Dankie tog Hy gee sy genade nie net aan die wat uitspattige, onverantwoordelike lewens lei nie. Geen onderskeid, dit is vir almal!

Al is ons nie almal dieselfde nie, al is ons nie almal ewe heilig of ewe slim of ewe maer of van dieselfde opinie, of ewe ryk of ewe arm nie, kom ons klim van hierdie troontjies af, wat die wêreld so graag wil hê ons op moet klim sodat ons kan afkyk en ongelyk en oneen en onewe kan wees. Want eitnlik is ons almal presies dieselfde as dit by ons sondigheid kom, en by ons hopeloosheid en ons behoefte aan Jesus kom…

Paulus praat in hierdie gedeelte van dat ons voor die geloof gekom het, deur die wet gevange gehou is.

Omdat Geloof in Jesus deel is van ons erfporsie, deel is van wat ons ontvang, deel is van wat ons een maak in Christus, kan nie die wet nie, nie die wêreld nie, nie ons denke nie, nie ons situasies ons nou meer gevange hou nie. Geloof help ons om verder en meer en beter te kan sien. Geloof help ons om rekening te hou met God. En met hierdie andersheid van God.

Dit is belangrik om te weet, dat ons almal erfgename is, en daarom het ons almal ook geloof. Soms maak situasies dat ons minder gelowig voel, maar voel het mos nou niks uit te waai met wat die waarheid is nie, met wat ons weet ‘n feit is nie. Ons almal het geloof. Maar wat is hierdie geloof? Wat is die definisie van geloof? Walter Brueggemann skryf, geloof is om te volhard, aan te hou aanhou glo in hierdie Jesus wat ons ontvang het, al gaan dit in teen wat ons common sense vir ons sê die werklikheid is. Dit vra dat ek sal glo in God al bewys alle menslike rede en data en bewyse my verkeerd, net soos vir Abraham en Sarah. (Weereens. Niks met voel uit te waai nie)

Om te glo is wie ons is, ons kan nie anders nie. Dit beteken dat ons na ‘n hopelose wêreld kan kyk waar oneenheid, onreg, diskriminasie, rasisme, afkyk en neerkyk, en dan proteste oor hierdie goed aan die orde van die dag is, kan kyk en kan weet, dat ons so een is, so dieselfde is, almal so ongelooflik verlore is, dat Jesus juis vir ‘n wêreld soos ons gekom het. Geloof is om te weet dat ons God Nie Homself kan keer om elke dag deur ons en deur ander mense wat anders as ek is weer en weer en weer te kom en genade oorvloedig en oorbodig vir almal uit te deel nie. En die wonderlike ding van hierdie erfporsie is dat hierdie God net nooit kan op raak nie. Daar is genoeg vir elkeen en vir almal vir altyd!

Onthou dan nou ten minste in hierdie week, wanneer ons dalk in ongeloof staan oor die sondigheid en die oneenheid in hierdie wêreld, wanneer dit jou uit jou geloof uit skok, onthou dan, dat jy geloof ge-erf het. Dat jy ‘n gelowige is en daarom kan jy na hierdie situasies met geloof kyk. En mag ons dan met hierdie geloof weet dat hierdie situasies nie getuig van ‘n wêreld sonder God nie, maar getuig van ‘n God wat juis vir ‘n wereld soos hierdie gekom het en elke dag steeds in en deur mense soos ek, maar ook in en deur mense glad nie soos ek na hierdie wêreld kom.

Amen.