• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 21 Julie 2019

‘n Mandjie ryp vrugte

Gelei deur: Andre Louw

Skriflesing: Amos 8

21 Julie 2019 – Amos 8

‘n Mandjie ryp vrugte

LeesAmos 8

Ons het tydens die vorige erediens ook uit die profeet Amos gelees (14/07/2019, Amos 7:7-17). Kom ons tel die storie dáár op …

‘n Profeet is iemand vir wie God kies/roep om vir mense te vertel wat Hy vir hulle wil sê. Mense van God is eintlik almal profete. Amos was ‘n boer (7:14). Ons weet mos ook dat ‘n ander profeet (Joël 2:28 en verder, lees ook Hand 2) vertel het van God se Gees wat in al God se mense sal bly: mans en vrouens, oud en jonk.

Amos het vir die mense van God vertel wat hy van God gehoor het (7:7-9). ‘n Mens sou eintlik (vanselfsprekend) verwag dat mense van God sal luister en sal doen wat die Here vir hulle sê, sal reageer deur op die Here se pad te stap, maar dit het nie so gebeur nie (7:10-13). Die mense wou nie luister nie. Hulle het gesê Amos moet weggaan, hulle wil nie hoor wat hy te sê het nie. Hulle het hulle rug op hom gedraai en hulle eie pad gestap,  voortgegaan met hulle lewe asof Amos glad nie met hulle gepraat het nie. Hulle wou nie God se woorde hoor nie. Hulle het nie gehou van wat God vir hulle sê nie. Dit het hulle nie gepas nie.

Ons tel vandag se storie dáár op, want in Amos 8 gebeur dit weer ‘n keer dat die mense van God nie hou van wat God sê nie en nie wil luister nie. Amos vertel dan vir hulle dat ‘n verskriklike ding sal gebeur. Mense wat nie na God wil luister nie, kán later nie meer hoor wat Hy sê nie. Dit is nie meer vir hulle moontlik nie. Hiervan sê Amos dat dít die ergste soort droogte is wat daar ooit kan wees (8:11 en verder). Wanneer mense graag die woorde van God wil hoor, weet dat hulle daaraan behoefte het, soek na die woorde van God, maar hulle kan dit nie meer van al die baie ander woorde en stemme wat hulle hoor, onderskei nie. Hulle weet nie meer hoe nie. Hulle kan net hoor waaraan hulle gewoond geword het, geoefen is om te hoor en dít is wat húlle nog altyd wóú hoor, wat húlle pas, waarvan húlle hou. ‘n Droogte, ‘n gebrek aan die woorde van God. Eintlik nie aan God se woorde nie, maar aan die hoor van die woorde van God. Geen “hoor” nie, is erger as geen water nie. Dit lei – soos droogte – tot die dood, uitwissing, vernietiging, tot die einde van God se mooi mense vir wie Hy die lewe gegee en bedoel het (8:13). Uiteindelik is daar geen lewe meer nie. Net dood en doodsheid. Om nie meer te kan hoor wat God sê nie, is so goed soos Godverlatenheid.

Amos sien ‘n mandjie ryp vrugte (8:1-2). Mooi. Aanloklik. Begeerlik, selfs. Vertel van ‘n suksesvolle oes. Dit maak ‘n mens lus om daarvan te eet. Dit is nie snaaks dat so baie kunstenaars al mandjies vrugte geteken het nie en dat in kunsklasse – wanneer dit gaan oor stillewes – mense geleer word om mandjies vrugte te teken nie. Dis mooi, kleurvol. Baie min mense wat ek ken (indien enige), selfs hier in Namibië waar ons graag sê dat ons van vleis lewe, dat vleis mos kos is, hou nie daarvan nie.

Amos sien ‘n mandjie ryp vrugte.

Wat die Here sien wanneer Hý daarna kyk, is einde, ‘n ander soort ryp (8:2b-3). Die hebreeuse woorde vir “ryp vrugte” en “einde” klink baie dieselfde. Die 1983 Afrikaanse vertaling het hierdie woordspeling só in-vertaal: “ryp vrugte” en “die tyd is ryp vir my volk Israel”.

Die Here kyk anders as mense, as ons. Dit wat vir ons vanselfsprekend mooi, begeerlik, aanloklik, lekker is, wat vertel van ‘n suksesvolle oes, goed is, wat ons dalk selfs beskou as spesiale geskenke van die Here af, is nie noodwendig dieselfde as waarvan die Here hou en as wat Hý begeer nie.

Hierby moet ons dalk nie té gou verbypraat nie. Ek kry nogal die indruk dat ons ten minste soms reken dat as óns van iets hou, as óns dink iets is mooi en goed, ons reken dat dit vanselfsprekend ook vir die Here só sal wees. Dat Hy vanselfsprekend sal hou waarvan ons hou, sal dink soos ons dink. Hoe kan Hy dan nou nie daarvan hou nie, dis tog vir óns mooi en goed en reg en dit maak óns tog gelukkig en tevrede?!

Die Here kyk na dieselfde mandjie ryp vrugte as Amos en sê: My mense is ryp vir die oordeel. Dalk met die gedagte van: Juis dít waarvan hulle hou, wat hulle mooi en goed en suksesvol en begeerlik vind, is wat hulle ryp maak vir die oordeel.

En dan vertel Amos waarvan in hulle lewens die Here niks hou nie (8:4 e.v.). Mense tel nie vir hulle nie. Mense is vir hulle maniere om méér bymekaar te maak. Daarom sien hulle mense se nood nie raak nie, ag en respekteer hulle nie mense met nood nie, staan hulle sulke mense nie by nie en is hulle sukses, hulle welvaart, hulle rykdom, hulle geluk dus gebou op wanpraktyke. Dit waarna hulle verlang, wat hulle soek, wat hulle – by wyse van spreke – vir hulle kinders voorhou as sukses en geluk, is daarom vir die Here rede vir oordeel, herinner Hom nie aan welvaart, geluk, veilgheid, sekuriteit nie, maar aan einde, oordeel, vernietiging.

Daar is ‘n baie goeie kans dat die manier waarop hulle teenoor ander optree, hulle sakepraktyke waarvan almal behalwe die armes en die Here hou, gesien moet word as simptome van iets anders, waarop die Here eintlik sy vinger kom lê, wat Hy eintlik vir hulle wil uitwys.

Hierdie oorsprong van die simptome kry ons in die sydelingse verwysing na die Sabbat (veral) en Nuwemaansfees (8:5). Op die Sabbat en en tydens ander feeste wat aan die Here gewy is, is hulle nie met die Here besig nie, maar met hulleself, met hulle eie planne om die mandjie met vrugte vol te kry. Dalk sal 8:5 in ons mond wel ietwat anders klink. Wie van ons hier sal tog nou doelbewus sulke soort sakepraktyke soos waarvan hier gepraat word, voorstaan of bedink? Dalk klink dit in ons mond: Sondae moet ek goed rus, ontspan, sodat ek môre weer energie en krag sal hê om te werk, die mandjie vol te kry. Maar uiteindelik is dit dalk nie veel anders as wat ons in 8:5 lees nie, want dan gaan dit ook alweer oor my, oor die mandjie, terwyl die bedoeling van die Sabbat (en juis dít is die rede waarom die Sabbat regdeur die Ou Testament, eintlik regdeur die Bybel, vir die Here van soveel belang is) is dat mense se ritme, programme onderbreek sal word sodat Hy, die Here, met hulle kan tyd spandeer. Die gedagte met die Sabbat is tyd by en met die Here. Om by Hom te sit, na Hom te luister, by Hom te wees. Om te hoor en leer Wie en hoe Hy is en hoe ons dáárom is. Die Sabbat gaan oor God, sodat Hy deur mense geken sal word, mense sal onthou dat lewe oor Hom gaan, dat Hy Gód is, Here, Koning en dat lewe by Hom is.

Maar wat die mense nou doen, is om op die Sabbat planne te maak vir môre. Die Sabbat gaan nie meer oor God en by God te wees nie, maar oor húlle en húlle planne. Dít is die oorsprong agter die simptome waaroor die Here dit hier het: ék, óns, mýne, óns s’n. Waarvan ék hou, wat ék goedvind, wat ék reken my help. Ék, ék, ék. En, uiteindelik, al onderhou mense nog die Sabbat (daar is Skrifuitleggers wat op hierdie punt reken dit gaan hier ten minste ook om misbruik van godsdiens vir eie gewin en voordeel), gaan die Sabbat nie meer oor God en luister na God nie ... en kan mense sy woorde, sy stem, glad nie meer hoor nie.

Interessant (en verskriklik!) is in hierdie verband Johannes 5:37 en verder, waar Jesus vir die Fariseërs (ywerige studente van die skrifte) sê dat hulle die Vader se stem nog nooit gehoor het nie en Hom nie ken nie (sy gestalte nog nooit gesien het nie), omdat hulle die Skrifte lees om die ewige lewe daarin te kry (lees: ter wille van hulleself). Nie om Hom te sien of te ken of sy stem te hoor nie of werklik te gehoorsaam nie, maar om hulle eie veiligheid, toekoms te verseker. En uiteindelik tree hulle teenoor mense op op ‘n manier wat nie by mense van God pas nie, buit hulle mense uit, want die woorde van God lewe nie in hulle nie, hulle kan dit nie hoor nie, hulle leef die lewens van mense wat die Here nie ken of glo nie ... in terme van Amos Godverlate mense, soos reeds vroeër gesê.

Aan dít alles, sê die Here, maak Hy ‘n einde. Hy kan dit nie langer verdra nie. Hy oordeel/veroordeel dit. “Ek sal nooit vergeet wat julle gedoen het nie!” sê Hy (8:7). Normaalweg hoor ons ‘n uitspraak soos hierdie heeltemal anders, as dat die Here ons nooit sal vergeet nie, Hy dink altyd aan ons, dít is hoe Hy is, Hy sorg vir ons, versorg ons, hou ons veilig, pas ons op. Hier is sy bedoeling dat Hy onthou ... om te oordeel.

Ons moet ‘n oomblik hierby stilstaan. Bedink hoe verskriklik dít alles is. God is liefde (1 Joh 4:8). Hy word beskryf, laat Homself beskryf, as liefde. Dít is sy wese: Liefde. Daar word nooit van sy straf of kwaad wees oor die sonde of sy oordeel daaroor op dieselfde manier as oor sy liefde gepraat nie. Hy is nie in dieselfde sin kwaad as wat Hy liefde is nie. Hy word kwaad maar (sy wese) is nie kwaad nie.

God wat liefde is ... sonde, selfgesentreerdheid, breek sy hart, maak Hom seer, gaan teen Hom, teen hoe Hy is, in ... tot op ‘n punt wat Hy dit straf, ‘n einde daaraan maak.

God se oordeel en veroordeling hou verband met einde (byvoorbeeld Rom 8:3 en Amos 8:2 wat meer direk vertaal, lui: “Die einde het vir my volk Israel gekom …”) en Amos noem as beskrywing van die oordeel van God ‘n paar verskriklike goed, alles beelde wat wil sê: Dink aan wat vir jou die heel ergste of verskriklikste sal wees en weet dán dat die oordeel, die straf só of erger sal wees (daar is Skrifverklaarders wat byvoorbeeld reken dat kort voor dít wat in Amos 8 vertel word, daar ‘n erge aardbewing was en dat ‘n aardbewing dus vir die mense verskrikking ingehou het): aardbewing (8:8), oorstroming (8:8), sonsverduistering (8:9), soos wanneer ‘n mens oor ‘n enigste kind treur (8:10), honger en dors na die woorde van God, Godverlatenheid soos vroeëer gesê (8:11 en verder), dood (8:13).

Kantaantekening: Daar is Skrifverklaarders wat in hierdie tekens lees dat mense se selfgesentreerdheid kosmiese, ekologiese gevolge het, maar dít is ‘n gesprek vir ‘n ander keer.

Dít is waar ék, ék, ék en óns, óns, óns en mýne, mýne, mýne ons bring. ‘n Verskriklike uiteinde. God se oordeel. God se veroordeling.

Moenie té gou hierby verbybeweeg nie. Staan hierby stil. Amos praat met die volk Israel, met God se mense … Hóór dit!

Met dít alles heel deeglik in die gedagte is dit interessant om vanuit die Nuwe Testament terug te lees en op te merk hoeveel van die beelde van die oordeel wat Amos hier beskryf, ook genoem word wanneer Jesus gekruisig word. Byvoorbeeld sonsverduistering (Matt 27:45, Godverlatenheid (Matt 27:46), dood (Matt 28:50), aardbewing (Matt 28:51) … en die dood van ‘n enigste Seun?

Kan dit wees dat ons hierin moet lees hoe God se verskriklike oordeel oor sonde, oor selfveheffing, selfsug, hebsug, oor óns(!) in Jesus voltrek word? Dat, in Jesus, aan sonde ‘n einde gemaak word, die oordeel oor ons sonde val?

Hieroor sou die apostel Paulus later sê (byvoorbeeld Rom 8:1 en verder): Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie … dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel (‘n einde daaraan gemaak).

En (eers) nóú kan en mag en moet ons anders oor onsself dink! Onsself “re-imagine” as mense al luisterende na God op pad agter Hom aan, gehoorsaam en getrou aan Hom. Gerig op Hom, nie op onsself nie.

Hoe kan mense (ons!) tog so onnosel wees om nie te hoor en gehoorsaam nie?!

Te goed om waar te wees? Eet die brood, drink die wyn. Só seker as wat dit deel van ons sisteme raak, só seker is die oordeel (vernietiging, einde) van God oor sonde, só seker het God in Jesus ‘n einde aan die sonde en die mag van sonde gemaak.

(Hierop is die nagmaal gevier.)