• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 20 Augustus 2019

Stof is jy … Remember you are dust …

Gelei deur: Andre Louw

Skriflesing: Gen 2:7; 3:19; Ps 103:14

19 Augustus 2019 - Gen 2:7; 3:19; Ps 103:14

Stof is jy … Remember you are dust …

Lees Gen 2:4(b)-8,15-17; 3:1-13 (in vers 14-17 praat die Here dan met die oortreders van sy opdrag en hierdie gesprek loop uit op ...) 19

My eerste herinnering aan 3:19 se laaste gedeelte “Stof is jy, en jy sal weer stof word.” is ‘n ou begrafnisformulier wat ‘n handeling ingesluit het waar die voorganger by die graf ‘n handvol grond op die kis (in die gat) laat val terwyl hy/sy hierdie woorde uit Gen 3:19 sê. “Dust to dust”. “Ashes to ashes.”

Die emosie wat vir my saam met die herinnering kom, hou verband met eindigheid. Ons is nie vir altyd nie. Nietigheid. Ons, mense, is niks, met iets daarby van ons lewens kom eintlik ook tot niks. Alles is eintlik maar wind, stof. Geboorte, trou en kinders kry en dan dood en uiteindelik vergetelheid. Stof, dít is wat ons is. Nóú nog hier, maar netnou is ons weg, is ons nie meer nie.

Ek dink aan ‘n veeboer uit die suide van Namibië wat vertel hoe hy by sy agterdeur uitstap en al wat hy sien is droogte, sand, geen weiding vir die diere wat hy nog oor het nie. Die Augustuswind jaag stof rond. Só is ons, sê hy, niks. Dit help ook nie dat ek met God hieroor praat nie, my praat is óp en hoekom sal ek in elk geval met Hom praat, ek het tog nie ‘n sê nie, ek maak nie regtig saak nie, ek is ‘n stofkorreltjie in ‘n weegskaal. Ons is stof.

Ons koppel 3:19 dikwels aan ons sondigheid. Ons sal sê: verskoon my maar, ek is so gemaak en so gelaat staan. Ek is maar net méns. Ek het nou maar eenmaal hierdie humeur. Dit is maar hoe ek is. Ek is nou maar eenmaal rassisties. Almal – selfs God – moet dit nou maar verstaan, want Hy het my tog gemaak en ek is tog maar net ‘n mens met my drange en drifte en alles. Dat ons stof is, hou vir ons verband met hierdie soort goed, met hierdie soort “swakhede”. Ons is tog net stof, daarom aanvaar ons dat om in te gee vir versoeking logies, vanselfsprekend is. Hoe dan anders, ons is tog maar net stof.

Bitter min mense wat ek ken – indien enige – waardeer die feit dat ons stof is en weer stof sal word, positief. Die manier waarop ons daaroor dink, lei nie eintlik tot ‘n positiewe mensbeskouing nie. Klein, swak, sleg, nikswerd is ons. Ons is verdoem tot ‘n stofbestaan. Ons koppel dit aan die sonde van die eerste mense. Dit is as gevolg van hulle ongehoorsaamheid wat ons deel in hierdie stofbestaan ... hulle wóú mos ... en nou ly ons daaronder ...

Ek vermoed dat julle weet waarvan ek praat, dat julle hierdie soort lewensgevoel ken, hierdie manier van dink.

My indruk is dat God anders as ons hieroor dink, dat om só te dink soos ek nou probeer vertel het, direk ingaan teen God se manier van dink en teen hoe in die Bybel gepraat word.

Kom ek wys dit vir julle ...

In Gen 2:7 lees ons dat God ons, mense, uit stof gevorm het, waarvan in Gen 1:31 vertel word dat God gedink het dit is baie goed.

Dan, in Gen 3:6 lees ons (onverklaarbaar en onverduidelikbaar) van sonde en ongehoorsaamheid. Die mense deur God uit stof gevorm, wil nie maak soos Hy wil hê nie, soos Hy vir hulle sê nie.

Waarop ons dan in Gen 3:19 lees dat mense sal terugkeer na die aarde toe, want daaruit is ons geneem/gevorm: Stof is jy en jy sal weer stof word.

Opvallend is die gebruik van dieselfde hebreeuse terme (vorm, stof) in 2:7 en 3:19. Daar is Skrifuitleggers wat reken dat hierdie twee verse doelbewus vroeg aan die begin en naby aan die einde staan van die deel van die skeppingsverhaal wat die klem op die mense laat val 2:4(b)-3:24. In 2:7 word gesê hoe en wie God ons gemaak het, hoe en wie ons is. In 3:19 word bevestig dat ons wel só is.

Sien, nie die sónde maak dat God van ons sê dat ons stof is en weer stof sal word nie. Dít is reeds vóór die sonde van ons waar. Dít is hoe God ons gevorm het, dít is ons aard, ons diepste wese. En as die Here hier sê dat ons weer stof sal word ná ons dood, is dit soos om te sê dat ons moet onthou dat Hy ons uit stof gevorm het en dat ons mos nooit iets anders sal kan wees nie. Tot in die dood is ons só. 3:19 funksioneer dus as ‘n herinnering van wie ons eintlik is. Ons moet onthou wie ons is. God se prentjie, God se beeld, gevorm uit stof. Hoe kan ons dan nou wil maak asof ons anders is? Ons moenie – soos die mense in hierdie storie – iets of iemand anders probeer wees as wie ons is en as wie God ons gemaak het nie. Hoe kan Ons?

Kyk wat in hierdie storie gebeur. Die mense wil nie wees soos en wie God hulle gemaak het nie. Hulle wil self god wees, die rolle tussen Skepper en skepsel omruil. Luister wat die slang vir die vrou sê en wát haar uiteindelik beweeg om aan die Here ongehoorsaam te wees. (3:4-6)

Kom ons praat ‘n bietjie meer breedvoerig hieroor ...

Oor die feit dat ons uit stof gevorm is, kan heelwat gesê word, maar dit sluit ten minste in dat God ons uitgedink het en ons van God afhanklik is. Ons kry die lewe, die vorm, menswees as geskenk, omdat God dit vir ons wíl gee. Ons is gevorm om Hom bekend te stel, om sy beeld te wees (1:26-27). Mense met ‘n roeping dus. ‘n Roeping wat insluit dat ons die skepping sal bewerk en bewaak (2:15, 1:28). Ons is vry om die skepping te geniet (2:16, 1:29), te geniet wat Hy vir ons gee. Mense binne grense. Van daardie een boom mag jy nie eet nie (2:17). Ons menswees bestaan dáárin dat óns nie die baas is nie. Ons is deur God gevorm, nie Hy deur ons nie.

Dat ons deur God uit stof gevorm is, beskryf, definieer ons bestaan. Dit is nie ’n straf nie, maar hoe God ons bedoel het om te wees!

Dán, onverklaarbaar, besluit die mense om te probeer om anders te wees, om nie mense van stof te wees nie, nie God se afhanklike geskapenes soos God wil hê en dit bedoel het nie. Die aarde wat hulle veronderstel was om te geniet, word nou ‘n plek vol van sweet en moeite en swaarkry. Daar is vervreemding tussen die mense en die aarde waaruit ons gemaak is. Die verhouding tussen mense, mans en vrouens verander. Sonde maak dat gelykes en helpers van mekaar (2:17), onderhoriges van mekaar word (3:16).

Op hierdie punt kry ons dan 3:19: julle moenie só maak nie. Moenie val vir die slang se praatjies nie. Dit is wanneer jy onthou dat jy stof is, onthou dat en hoe Ek jou gevorm het, dat jy sal lewe ... en nét dan . Onthou: Stof is jy en jy sal weer stof word! Onthou jy is stof! Jy kan nie iets anders wees as wat jy is nie!

Hierdie is dus nie ‘n wanhoopsuitspraak nie, maar woorde vol hoop! Ons hoef nie en moenie maak soos die mense in Genesis nie. Dit pas nie by ons nie. Méér as waarvan die slang ons wil oortuig, is waar! Onthou jy is stof!

En dan lees ons in Ps 103:14 dat die Here dit ook onthou en sal onthou ... dat Hy ons uit stof gevorm het. Weer ‘n keer kry ons dieselfde woorde (vorm, stof) as in Gen 2:7 en 3:19. Hy weet waarvan ons gemaak is en dink daaraan dat ons stof is. Die vertaling van die Holy Bible is verhelderend: For He knoweth our frame; He remebereth that we are dust.

Dink vir ‘n oomblik oor die woord remember. Lees dit as re-member. Wanneer ons dink ons is nie meer members van die wesens wat deur Hom uit stof gevorm is nie, dan re-member Hy ons. Dink Hy ons weer daar in. Bedink Hy ons só. Sien Hy ons só. Dalk werk her-inner net só. Hy sit ons weer daar in.

Ps 103:14 word voorafgegaan deur ‘n beskrywing van sonde en veral hoe die Here ons sonde wegvat, uitwis. Sonde kan tog nie en mag tog nie in ons lewens die finale woord hê nie, dis tog nie hoe ons is nie, hoe Hy ons gemaak het nie. Ons is tog deur Hom gevorm uit stof.

Die verse wat volg op Ps 103:14 handel oor ons eindigheid, verganklikheid, die feit dat ons nie vir ewig hier op aarde lewe nie en oor hoe die Here - anders as ons - onverganklik is. Sy liefde vir die verganklikes is onverganklik.

Die sleutelterm in die verse wat Ps 103:14 omring, is die hebreeuse woord hesed wat vertel van God se onverganklike liefde, genade, barmhartigheid, lankmoedigheid.

Dat God ons uit stof gevorm het, beteken dat God ons onthou (re-member) met sy onverganklike liefde, ons omring met sy onverganklike liefde, dat sy roeping vir ons, die vryheid waartoe Hy ons roep, die grense waarbinne Hy ons roep, die feit dat ons sý beeld is en nie die beeld van iets of iemand anders nie, vir Hom tél, sáák maak.

Dít alles help ons om weer ‘n keer beter te sien wát Jesus kom doen het toe Hy ons stofmannetjies se vorm aangetrek, vir Hóm aangetrek het. Hy het ons kom maak wie ons bedoel is om te wees ...

Laat ek ten slotte vertel waaraan ek alles gedink het terwyl ek oor al hierdie goed gelees en gedink en geluister het. Noem dit nou maar ‘n eie stofstorie ...

Toe ek klein was, ek dink nie ek was al in die skool nie, het ek pampoentjes gekry. Waarskynlik in ‘n poging om te verhoed dat ek die res van die familie aansteek, is my bed geskuif na ‘n soort gangetjie in die huis waar ek alleen kon lê. Dit was winter. My kombers het ‘n rooi oortreksel met swart blommetjies met wit meeldrade daarop gehad. ‘n Sonstreep het op my bed geval en wanneer ek die kombers beweeg het, was daar honderde stoffies wat op en af en heen en weer beweeg, in die sonstraal sigbaar. Dit het my eindeloos besig gehou. Op geen manier kon ek die stoffies weg- of stilkry nie. Hulle was eenvoudig heeltyd daar. Besig om te kom en kom en kom.

Ek het ook gedink aan die gedig/lied van Leonard Cohen, “Love itself” waaroor baie mense baie wonder presies wat hy daarmee bedoel het. Leonard Cohen was ‘n Jood en diep gevorm (na my oordeel dalk selfs meer as wat hy besef het) deur die Ou Testament. In die gedig vertel hy hoe sonstrale by sy venster inskyn en “rays of Love” (hoofletter L) by sy kamer laat inkom. Dan sien hy in die strome lig “the dust you seldom see”, “flecks that float and dance” en waaruit die “Nameless makes a Name for one like me”.

En ek het gedink aan hoe die Here oor jare heen deur stofkorreltjies na my toe gekom het, aan hoe ek Hom in en deur (j)hulle leer ken het. Aan hoe die Here kies om deur miljoene stofkorreltjies die wêreld in te gaan en soos stof mos maar maak, dáár te gaan vassit waar niemand stof wil hê nie. Aan hoe stofkorreltjies in skrefies ingaan en dit opvul. In hoekies gaan lê en aan hoe stofkorreltjies aanhou kom en kom en kom ongeag of ek hulle probeer wegklap of keer en aan hoe die stofkorreltjies onbeheerbaar spring wanneer ek die kombers beweeg en aan hoe die Here reken sy liefde sal só onbeheerbaar en onkeerbaar deur stofkorreltjies die wêreld ingedra word.

En ek het daraaan gedink dat ek ook deur die Here as so ‘n stofkorreltjie gevorm is en dat dít is wie en hoe ek eintlik is en dat ek niks anders kan wees as só ‘n stofkorreltjie nie ...

En wanneer ons nou die brood eet en die wyn drink (self ook produkte van die grond), hoor die Here sê: Onthou jy is stof ... Ek onthou dit ook.

(Op hierdie punt is die nagmaal gevier.)