• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 15 September 2019

Die gelykenis van die verlore skaap

Gelei deur: Hestie Hay

Skriflesing: Lukas 15: 1-10

Jenna Edmonson is ‘n vurige sokker speler. En by een van hulle belangrikste wedstryde vir die jaar hardloop en gly sy en ‘n ander meisie op dieselfde tyd oor die gras vir die bal. Hulle bene kap hard teen mekaar en Jenna hoor ‘n ‘pop’ geluid. Ligamente is af. Sy gaan toe vir die operasie en na 4 maande, toe sy eintlik nou al heeltemal gesond moes gewees het, word Jenna van die een dokter na die ander dokter verwys met ‘n gevaarlike hoë koors en infeksie in haar knie. Die dokters kom toe agter dat dit veroorsaak word deur die kiem (jammer vir al die dokters hier) pseudomonas aeruginosa wat been en weefsel opeet. Dit is ‘n hospitaal kiem en in Amerika gaan daar jaarliks 100 000 mense dood aan hospitaalkieme. Die tegniese term vir ‘n hospitaal kiem is eatragenic. Eatra beteken (gesond word) genic (oorsprong of geboorte) en dit beteken die kiem word opgetel in ‘n omgewing waar daar gesond gemaak word. So die plek waar jy gesond moet word, gee eintlik dan nou vir jou die siekte. 

Eugene Peterson maak dan die volgende vergelyking met hospitaalkieme en christenwees. Hy sê sommige sondes, is net moontlik in ‘n lewe van geloof. So ongelowiges kan eintlik nie hierdie siektes optel nie. En hierdie siektes is net soos hospitaalkieme. Die plek waar ons gesond moes word, word dan die plek waar ons hierdie vreemde maniere van leef, hierdie siektes optel.

Eugene Peterson noem dan hierdie kiem wat ons kry by chrsitenwees, eusebaigenic. Eusebia = vroomheid, genic = oorsprong.

Dit is om ‘n ‘holier than thou’ tipe houding aan te neem. Om amper te begin dink dat ek die reg het om god te speel. Om te begin dink dat genade en liefde aan my behoort en daarom sal ek besluit wie dit werd is om dit te kry en wie dit nie werd is nie. Dit is om te begin dink dat my sonde, minder erg is as jou sonde. Dit is om te begin dink dat God met twee stelle reëls werk, ‘n stel reëls vir mense soos ek, en ‘n stel reëls vir mense wat minder soos ek is. Dit beteken ook dat God ook net die vergewe wie ek dink dit die moeitewerd is en die wie darem jammer genoeg is om vergewe te mag word. Dit is om te ly aan eusebiagenic. 

Nog ‘n manier om hierdie siekte se simptome raak te sien, is om bloot na die nuus te luister en te kyk hoe ons reageer. 

Eusebiagenic veroorsaak dat ons nie dink dat daar vreugde in die hemel sal wees as een sondaar tot bekering kom nie. Maar dat daar eerder vreugde sal wees in die hemel vir elke sondaar wat vernietig sal word omdat hulle hulle nie tot God bekeer nie. Dat ons dink dat daar vreugde moet wees wanneer ‘n sekere president uiteindelik dood, of dat daar vreugde moet wees wanneer die doodstraf nou net sal terugkom en sekere verkragters en kinderontvoerders tog net verlore sal gaan. Die ewige hel in, dat hulle uiteindelik sal kry wat hulle verdien. Ja, daaroor kan ons mos fees vier en bly wees! Maar lyk my wanneer ons so voel, ly ons dalk erger aan die siekte as wat ons gedink het.

Ons sukkel om die siekte te diagnoseer, want ons tel dit op, ons steek hierdie siekte aan, by goeie plekke soos ons skole, huise, gemeentes, in die taal wat ons praat. Maar Eugene Peterson waarsku teen hierie siekte en sê dit is lewensgevaarlik. 

Lukas wie vir Lukas skryf is nie verniet ‘n dokter gewees nie, so kom ons kyk of hy ons kan help om die kieme uit te wys en dan die siekte waaraan ons ly te genees. 

Ek het nogals gewonder waar ons aan hierdie siektes kom, waar ons aangesteek het? En Stanley Hauerwas vertel toe ‘n storie wat ons dalk kan help. 

Stanley Hauerwas se broer se kind, Billy was ses jaar oud en in die kategese klas die dag toe die man vir hulle vertel het van Jesus en hoe Hy aan die kruis vasgeslaan is en hoe die mense Hom gespot het en ‘n doringkroon op sy kop gesit het en suurwyn gegee het om te drink. Terwyl die storie nog aan die vertel is, steek Billy sy hand baie geïrriteerd in die lug op om ‘n beurt te kry om iets te sê. Toe hy uiteindelik sy beurt kry, skreeu hy uit, as Chuck Norris darem daar was, sou hy darem van daai kruis afgeklim het en daai varke plat gevee het met die aarde!

Dalk is een van die plekke waar ons kieme optel die manier hoe ons oor Jesus en wat Hy gedoen het dink. Wat Jesus regtig gedoen het, werk net nie vir die dag en tyd en situasies waarin ons onsself bevind nie. Hestie, moet net asseblief nie by my kom met genade nie. Daar is reg en verkeerd en klaar. Kyk wat het hulle gedoen, ‘n kind ontvoer, ‘n land op sy knieë gebring, 1000 mense laat doodgaan van die honger. 

Sien, die feite is dat niemand te sleg is vir Jesus nie. Daaroor kan ons nou maar stry en baklei, ons kan maak of dit nie so is nie, ons kan wens dat dit nooit so was nie, maar niemand is te sleg vir Jesus nie en juis oor daardie rede word Hy gekruisig, omdat dit net so vreemd is, omdat niemand so daaroor dink nie en almal gedink het dat Hy aan die een of ander siekte ly... Maar die probleem is dat ons soms te goed kan wees vir Jesus. Te sterk kan wees vir Jesus.
As Jesus nie dinge gaan regruk nie, dan sal Trump of die doodstraf dit regruk, maar reggeruk sal dinge moet reggeruk word. En so tel ons die kieme op. 

Sien, vir ‘n Chuck Norris god, een wie aan ‘n kruis die verlore skape gee wat hulle verdien, hulle platvee met die aarde en van die kruis afklim, en die skape dan laat wegloop tot hulle die afgrond afval, die hel in, hulle wil mos, so ‘n god, sou ons net nooit ooit voor goed genoeg gewees het nie. Dit sou nie lank gewees het, voor ons ‘n fout gemaak het, en ook die afgrond, die hel in moes val nie. Vir ‘n Chuck Norris god, sou ons heeltyd moes eerste kom in alles, alles wen, heeltyd moes super heilig wees, heeltyd perfek moes wees, heeltyd reg moes wees, nie een keer verkeerd nie hoor, want dan chop jy! Vir so ‘n god, wat net sterk is, geen teken van liefde, of broosheid of selfs swakheid wys nie, vir so ‘n god, anders as vir Jesus, is almal te sleg, en is niemand goed genoeg nie. Nie eens die Fariseërs nie, nie eens moeder Teresa nie. 

Vergeet ons soms wie en hoe Jesus is? Kom ek wys vir julle ‘n interessante ding wat hierdie slim kommentaar mense raakgesien het in hierdie teks van hoe ons God is. Ongelukkig sien mens dit meer in die Grieks raak as in die Afrikaanse vertaling. 

Op die oog af lyk hierdie twee gelykenisse asof dit dieselfde ding sê, maar kyk gou na vers 6: Die herder sê: Wees saam met my bly, want ek het die skaap wat verlore was gevind. Vers 9: Die vrou sê: Wees saam met my bly want ek het die muntstuk, wat ek verloor het, gekry. 

Die munstuk kan nie op sy eie wegloop nie. Al dink ons partykeer ons geld het voete gekry, het geld regtig nie die vermoë om self weg te raak nie. Sy gaan soek nie die geld oor sy bang is die geld slaap koud of honger daar waar dit nou verlore is nie. Sy soek die geld omdat sy nie meer heel is nie, omdat die geld vir haar ‘n onvervangbare waarde het, omdat sy met angs besef haar lewe sal nie wees soos wat dit moet wees sonder die muntstuk nie. Dit is presies hoe Jesus is.

Jesus wys vir ons hier hoe Hy is. Dat die ergste ding van sonde is dat God sonder sy kinders moet klaarkom en dit kan Hy nie hanteer nie. Een van die wonderlikste goed van ons God, is dat Hy weerbaar is, broos is wanneer dit by ons en mense wat ons dink anders as ons is, kom. ‘n God wat nie kyk hoe sterk, slim, soet, reg, hoe jammer, hoe heilig jy is voor Hy jou kies nie, maar ‘n God wat sien jys weg en sy hart breek en dan enige iets sal doen om jou terug te kry.

Jesus verloor eerder sy lewe aan die kruis voordat ons verlore moet raak. 

Sien, ons kan dalk ons geld verloor, ons werke verloor, vertroue verloor, mense verloor, liefde verloor, ons kan die nuus luister en dink die wêreld is verlore en dan wens ons soms Chuck Norris kan gougou die varke op hulle plekke sit. ‘n Paar klappe kom uitdeel

Maar die ding is, Jesus, anders as Chuck Norris, kan nie verloor nie, al het dit so gelyk. Ons kan ook nie vir Jesus verloor nie, al lyk die wêreld en ons lewe hoe verlore. Want selfs op die mees godsverlate plek, kan ons net nie van God verlaat word nie. Hy is hopeloos te lief, te broos, te sterk, te genadig om ons te los. 

Om uit te vind wat is die teenmiddel vir hierdie siekte, is om weer uit te vind wie God is, wie Jesus is. Sodat ons kan agterkom, in hierdie verlore wereld, is ons toe al die tyd gevind. EN geen Chuck Norris, of selfhelpboek gaan ons help om onsself te vind nie. Jesus kry vir ons. En dit beteken niemand anders kry vir ons nie, nie eens jou verlore situasie of die so genaamde verlore wêreld nie. 

William Willimon skryf dat in die Bybel waar mense tot bekering kom, word daar fees gevier. So kom ons kom vanoggend tot bekering en vier fees. Kom ons onthou vanoggend dat ons gevind is. Ons is nie in ‘n deurmekaar wereld sonder ‘n plek nie. Ons weet wie ons is en ons weet presies wat ons roeping is. God se liefde te leef. So kom ons vier fees hieroor. En die gasheer vir die partytjie is Jesus. Alles is op die huis, die kos, die drinkgoed, die ingang, ons kan net kom en kom sit by sy tafel 

Ons gebruik die nagmaal sodat ons net weer kan onthou hoe ons God is. Dat een van sy sterkste kragte in sy weerloosheid lê wanneer dit by ons kom.