• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 14 Julie 2019

Ongemak vir die gemaklikes (Gemak vir die ongemaklikes)

Gelei deur: Hendrik Koekemoer

Skriflesing: Amos 7: 7-17

Agtergrond

Amos? Wie was Amos? Waar kom hy vandaan? Dis nou as jy hom hoegenaamd in die Bybel kon kry - onder ‘A’ is hy beslis nie!

Wat ons van Amos weet, is net dit wat hy self gesê het. Nêrens is die geskiedenisboeke soos Konings of Kronieke lees ons ‘n woord van of oor Amos nie. Amos is slegs uit die boek Amos aan ons bekend. Daar leer ons dat Amos afkomstig is van ‘n klein plekkie met die naam Tekoa, so 16 km suid van Jerusalem. Daar was hy ‘n veeboer en het hy ook wildevye gekweek. Dat hy nie bloot net ‘n veewagter was nie, beteken dat hy ‘’n redelik vermoënde man moes wees. Ook aan sy taalgebruik kan jy sien dat hy ‘n hoë vlak van opvoeding gehad het - veral sy digkuns is van hoogstaande gehalte.

Amos was egter nie soos Elia en Elisa ‘n beroepsprofeet wat in die een of ander kweekskool of profeteskool sy opleiding gehad het nie. Hy was ‘n boer - in murg en been ‘n boer, maar dan heel pertinent ‘n boer met ‘n storie. Die storie van sy lewe was dat God hom van tussen sy vee en sy kwekery kom roep het met ‘n boodskap vir die volk, heel spesifiek die tien stamme van die Noordryk.

Hy tree omtrent op so 100 - 150 jaar na die verdeling van Israel in die Noord- en Suidryk om die tien noordelike stamme, Israel en die twee Suidelike stamme, Juda, te vorm. Dit vind plaas so omtrent 932 vC, net na die dood van koning Salomo.

Interessant is dat Amos van die Suidryk afkomstig was, maar in die Noordryk gaan werk het. Weens die spanning tussen die twee ryke, het dit hom ‘n baie slegte wegspring gegee. Alhoewel Amos waarskynlik vir ‘n baie kort tydjie as profeet opgetree het, selfs dalk net enkele maande, moes dit omtrent so 762 vC gewees het. Hy moes dus tydgenote van Hosea, Jesaja en Miga gewees het. Daar word ook algemeen aanvaar dat sy kort beroepslewe daarmee te make het dat die kerk van die Noordryk, met priester Amasia aan die voorpunt, hom daar weggewerk het.

Dit is baie belangrik om te weet dat die godsdienste van die twee ryke dramaties van mekaar verskil het. Jerobeam I het kort na die skeuring van die ryk, probeer om ‘n eie, nasionale godsdienstige opset vir die Noordryk daar te stel in ‘n poging om die tien noordelike stamme van die tempel en van Jerusalem te speen. Hy was met reg bekommerd dat die volk se verbondenheid aan die tempel in Jerusalem daartoe kon lei dat die inwoners van die Noordryk nooit ‘n aparte volk met ‘n eie identiteit sou word nie, maar weer met Juda sou wou verenig, sodra hulle die kans kry. Daarom het hy ten minste twee groot godsdienstige sentra in die Noordryk laat bou, en wel by Dan in die verre noorde en Bet-El in die suide - met Bet-El die grootste en die belangrikste van die twee. Daar het hy twee goue kalwers laat oprig, ‘n eie priesterdiens aangestel - nie uit die Leviete afkomstig soos dit behoort te wees nie, maar eerder vir ‘n polities-korrekte priesterdiens gekies. Hier het jy nou met ‘n ordentlike staatsgodsdiens te doen gehad. Hy het ook sy eie godsdienstige feeste ingestel. Jerobeam II wat Jerobeam I opgevolg het, het mooi voortgebou op sy voorganger se werk. Hy het ook self hier aanbid.

Dit, in die woorde van die profete van daardie tyd, was natuurlik ‘n absolute gruwel in die oë van die Here. Nou word Amos, uit die Suidryk, waar dinge op godsdienstige gebied redelik goed gegaan het, geroep om God se oordeel oor die praktyke van die Noordryk aan te kondig.

Voor die Skriflesing

As ons nou gaan lees, let tog daarop dat die oordeel waartoe Amos geroep word om aan te kondig, nie soseer gemik is teen die godsdiens as sulks nie, maar eerder teen die resultaat van hierdie soort van godsdiens van die Noordryk. Omdat God nie die sentrum van die godsdiens is nie, is Hy ook nie die sentrum van die volk se lewe nie. Daar lê die moeilikheid.

Hierdie skeefgetrekte godsdiens, ‘n godsdiens wat meer oor die mense – oor hulleself - as oor God gegaan het, het uitgemond in geweldige sosiale onreg in die Noordryk. Teen die aard en wil van God in, is die samelewing al meer en meer in twee verskillende klasse verdeel. Die gaping tussen die twee groepe het al groter en groter geword, soos wat die bevoorregtes die verontregtes uitgebuit het. Dit was eintlik net een groot verneukspul! As die armes en die eenvoudiges nie meer hulle skuld kon betaal nie - skuld wat die rykes hulle met voorbedagte rade laat aangaan het, is hulle grond summier afgevat - want dit was waaroor dit eintlik gegaan het, hulleself is as slawe verkoop of as slawe op hulle eie grond aangehou.

In die handel en wandel van elke dag is die mense doodeenvoudig uitgebuit en onregverdig behandel. Skale het letterlik twee stelle gewigte gehad - die een te swaar en die ander te lig. Die een vir wanneer jy produkte aankoop en die ander vir wanneer jy iets moes verkoop - hierdie goed is fisies opgegrawe. Ekonomies is hulle gewurg, totdat nie net hulle laaste ‘oortjie’ uit hulle uit gewurg is nie, maar ook hulle laaste stukkie menswaardigheid. Selfs die feit dat die eenvoudiges hierdie goed geweet het, het hulle nie gehelp nie, want hulle was totaal magteloos teen ‘n absoluut korrupte samelewing. Hulle moes maar hulle monde hou en aanvaar wat hulle gekry het. Selfs seksueel is hulle misbruik.

Die vraag is: Hoe was so iets moontlik in ‘n land waar die wet van die Here die mense juis teen so iets moes beskerm? Hoe kon so iets hoegenaamd plaasvind? Maklik: As die wet nie aan jou kant is nie, maak ten minste seker dat jy die toepassers van die wet aan jou kant kry! Die regstelsel het mos so gewerk: Daar was in die stede die sogenaamde “poort” of die hof waar regspraak deur die oudstes van die samelewing gelewer is. Dit was juis hier op die kant van die dorp geleë ter wille van die toeganklikheid daarvan - selfs die randfigure van die samelewing kon so toegang tot die reg verkry. Elkeen in die land het hierdie vrye toegang tot regspraak gehad. Dit was ‘n besonder effektiewe instelling.

Maar die bevoorregtes het toe begin om die ‘regters’ om te koop, sodat uitsprake ten gunste van die bevoorregtes en teen die verontregtes sou val. Dit was vir die verontregtes fataal, want in daardie tyd was daar niks en niemand anders waarheen jy kon appelleer nie. Korrupsie en omkopery het deel van die lewe geword. Dié wat daardeur bevoordeel is, het gerieflikheidshalwe hulle monde daaroor gehou en die wat daardeur benadeel is, was magteloos daarteen. ‘n Deel van die volk het dus in weelde geleef en uitgestyg, maar dan ten koste van ‘n ander groep mense wat deur hierdie uitbuiting en verdrukking net dieper en dieper in hulle ellende verval het. Dit is by uitstek die sonde waarteen Amos se profesie gerig is.

Amos kom om die komende oordeel van die Here oor hierdie sosiale onreg aan te kondig. Wat hy sê, is: Vir die Here is dit nie OK so nie!

Skriflesing:      Amos 7: 7-17

Preek:  Ongemak vir die gemaklikes (Gemak vir die ongemaklikes)

Dit was deur die eeue nog altyd moeilik vir die kerk om haar profetiese rol te vervul. Om die magte van die dag aan te vat en hulle sonder ophou te bly herinner aan die waarheid, aan wat reg en wat verkeerd is, ten spyte van die teenstand van die magtigstes van dag. Tog is dit ten diepste die rol van 'n profeet. 'n Profeet herinner, onbeskaamd aan die wil van God. 'n Profeet onderskei tussen God se wil en al die ander agenda van die dag, hetsy die politieke of ekonomiese agendas is. Dit is wat profete doen.

Tog is ek nie heeltemal so seker of dit ons verwagting van profete is nie. Die Bybel sê immers dat ‘n profeet nie in sy eie land geëer word nie ... Ons sien dikwels die rol van ‘n profeet bloot daarin dat hy die ongelukkiges van die samelewing moet help om tog net weer gelukkig op ‘n gelukkiger, of beter plek uit te kom. Daarmee bedoel ek dat ons verwagting van ‘n profeet die meeste kere niks meer is as die verantwoordelikheid om diegene swaar trek of mense wat ongelukkig is, te vertroos en te bemoedig, sodat dit net weer met hulle beter kan gaan nie. Selfs vir profete gaan dit baie keer meer oor die voorspoed van mense, as die wil van God. Profete ís mense wat hoop bring vir moedelose en hopelose mense. Daar is absoluut niks daarmee verkeerd nie: Om gemak vir die ongemaklikes te bewerk – om troos te bring, mense te help om moed te hou, om hoop te bring. Die Bybel is vol daarvan. Die vraag is: Is dit al rol en verantwoordelikheid van ‘n profeet?

Uit Amos, onder andere, blyk dit egter dat dit vir ‘n ware profeet altyd oor meer as dit gaan. Inteendeel, vir valse profete gaan dit oor die wil en voorspoed van mense. Profete se rol en roeping is ook om die gemaklikes ongemaklik te maak ... en hulle haat dit – ek praat nou van die gemaklikes! Die kerk, ons, se profetiese stem mag nooit daardeur gedoof word of skeefgetrek word, sodat dit uiteindelik net oor die wil en voorspoed van mense gaan nie. Die Here sê so.

Profete staan op teen die onreg van hulle dag, ongeag die prys wat hulle daarvoor sou betaal. Elke era het sulke profete, ons era ook. Ongelukkig word ‘n profeet nie net in sy eie land nie geëer nie, maar heel dikwels ook nie in sy eie tyd nie. As mens net bietjie gaan kyk na die onlangse geskiedenis, was daar heelwat sulke profete. Hulle het inderdaad gemak vir die ongemaklikes bewerk, hoop gebring in uitsiglose situasies, maar deur die gemaklikes wat hulle ongemak veroorsaak het, is hulle verguis ...! Jy sal name soos Martin Luther King raak lees, as jy oor moderne profete gaan oplees, jy sal die name van Oom Beyers Naudé daar kry, selfs biskop Desmond Tutu en Prof Willie Jonker. Ons het hulle stemme gehoor, maar gekies om dit eerder te ignoreer, as om ons daaraan te steur. Ons hou nie daarvan om ongemaklik gemaak te word nie, terwyl dit presies die rol ‘n profeet is. Die Here roep profete juis om die gemaklikes, hulle wat so blind en doof geword het vir die verskriklike werklikheid daar buite, ongemaklik te maak oor die onreg en onregverdigheid ‘daar buite’.

Interessant van Amos is dat hy nie geroep word om, soos baie van die ander profete, die koning in die paleis te gaan konfronteer nie, hy word geroep om by die heiligdom, die kerk van hulle dag, te gaan profeteer ... Hier waar die volk gelukkig was, hier, in die gemaksones van die dag, hier waar hulle geskuil, weggekruip het vir die onreg en gemors van die wêreld daar buite. Hier, in die hartjie van die volk se uiters suksesvolle en bedrywige plek van aanbidding, hier kom Amos en skud die volk se fondamente, maak hy die gemaklikes uiters ongemaklik, soos profete behoort te doen. Terwyl die ellende en uitbuiting buite die tempel in die saad staan, aanbid die volk hier binne dat die biesies bewe. Buite word mense uitgebuit en staan die onreg van die dag in die saad, intussen ". . . meanwhile they worshipped up a storm at Bethel" skryf iemand.

Ek wonder of Jesus nie dalk vir Amos gelees het voordat Hy die geldmakers se tafels op die tempel se stoep omgegooi het nie? Hier het dit presies oor die uitbuiting van weerlose mense gegaan. Limburg skryf: "Authentic ministry . . . ought to comfort the afflicted but also afflict the comfortable." Dit is die rol van ‘n profeet.

Onthou tog, dat hierdie profetiese optrede waarvan ons praat, tog nie slegs vir spesifieke mense beskore is nie. Ons sou kon dink: Ag, dit het nou nie veel met my te doen nie. Die Bybel praat egter van ons almal as priesters, konings en profete ...   Ons almal is profete – dit is deel van ons identiteit, deel van wie ons is. Die Bybel praat van ons, die kerk van Jesus op aarde so. Om profeties op te tree of om profeties te lewe is ‘n roeping waarmee ons almal geroep is, ryk of arm, belangrik of onbelangrik. Amos, byvoorbeeld, was iemand van wie jy dit die heel minste kon verwag het om ‘n profeet te wees. Hy was nie van enige profeteskool met enige opleiding of akkreditasie nie, maar die profesie wat hy van die Here af ontvang, is so in die kol, dat die hoë priester hom by die koning gaan verkla, omdat "die land dit nie kan uithou met alles wat hy sê nie."

Ons is oor die algemeen baie sensitief vir kritiese stemme rondom ons – veral die stemme van gewone mense, juis en veral wanneer dit ons ongemaklik maak. Amos roep ons egter op om selfs die stem van ‘n ‘no body’ in die profetebedryf soos hy, nie sommer te ignoreer nie. Die Here praat ook deur ‘no bodies’ – Hy praat ook deur vreemdelinge en onbelangrikes, en deur ‘no bodies’ soos ek en jy.

Amos se boodskap is eintlik eenvoudig: Die dien van die Here sluit altyd die doen van geregtigheid teenoor ons medemens in. Oor onreg mag ons nooit stilbly nie. Die kerk van Jesus, is ‘n profetekoor, mense wat opstaan vir reg en geregtigheid, opstaan teen enige vorm van uitbuiting, korrupsie, en al daai euwels. Ons is méér as ‘n plek waar ongemaklikes bloot gemak kan kom vind. Ons roeping hou nie daarby op om die ongemaklikes gemaklik te maak nie, ons moet ook met tye die gemaklikes ongemaklik maak. Dit is wat profete doen – hulle is so irriterend met tye, dat hulle soos Amos weggejaag word. Somtyds is enigiets vir mense beter, as die waarheid ... Ons, profete van die Here, sal egter by die waarheid bly. Dit beteken heel dikwels om ongewilde besluite te neem, om ongewilde geluide te maak, solank dit net in die Naam van die Here is. Vir profete gaan dit oor God, nie oor die wil en voorspoed van mense nie, nie eers oor die eie wil en voorspoed van ‘n profeet nie.

Is ons daar? Is Windhoek-Oos daar? Wat maak ons met stemme soos dié van Amos ... en die Beyers Naude’s en Desmond Tutu’s van vandag, en my buurman en broer of suster in die gemeente? Sif ons net die stemme uit waarmee ons gemaklik is, of hoor ons ook die stemme wat ons ongemaklik maak? En: Hoe profeteer ons? Of paai ons eerder, in plaas daarvan om soos Amos bloot te sê en te doen wat ons weet die Here van ons verwag. Sien ons ons rol as profete bloot in die skep van gemak vir die ongemaklikes of sien ons ook daarvoor kans om die gemaklikes ongemaklik te maak wanneer God se woord dit van ons verwag. Dit is, ten minste ‘ook’, wat profete doen.