• Kerk
  • Gemeente
  • kerk-buite
  • kerk-binne-bybel-kers
  • kerk-binne-verhoog
  • kerk-binne-orrel
Erediens van 1 September 2019

Ps 24:1 Die aarde met almal en alles daarop is die Here s’n … behoort aan die Here.

Gelei deur: Andre Louw

Skriflesing: Ps 24:1

1 September 2019 - Ps 24:1

Die aarde met almal en alles daarop is die Here s’n … behoort aan die Here.

The earth and everything on it belongs to the Lord. The world and all its people belong to Him.

Lees Ps 24:1 – Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here ...

Ek wonder watter implikasies hierdie woorde alles vir ons sou kon hê. Ek wonder veral wat die implikasies hiervan alles is vir ons elkedagse werke en die manier waarop ons dit doen.

My indruk is dat ons sukkel, meer as wat ons besef dalk, sukkel om ons lewe by en met die Here en ons elkedagse werke met mekaar te rym, in lyn met mekaar te bring, by mekaar uit te bring, in te sien wat dit en hoe dit met mekaar te make het.

Douglas Schuurman, ‘n professor in arbeidsetiek by ‘n universiteit in Amerika, vertel hoe hy tydens sy voorgraadse studies by ‘n groot tuindienstemaatskappy gewerk het om vir sy studies te help betaal. Die eienaar van die maatskappy was ‘n baie geliefde man, ‘n christen wat met oortuiging vir die Here gelewe het en naweke gepreek het, mense opgeroep het tot geloof in die Here. Hy het op ‘n dag terwyl hulle êrens aan die werk was teenoor Douglas Schuurman opgemerk: Schuurman, sien jy al hierdie trekkers en vragmotor? Dít is alles niks, dit is net ‘n middel tot ‘n doel, hierdie werk wat ons doen, is nie die lewe nie, dit is eintlik net wind. Die eintlike lewe is Sondae wanneer ek preek, met mense oor die Here praat, mense oproep tot bekering. Dít is eintlik die lewe, dit is eintlik waaroor lewe gaan.

En Douglas Schuurman vertel hoe hy later jare teruggedink het hieraan ... en gedink het dat sy geliefde baas eintlik net halfpad gelewe het, dat, as alles aan die Here behoort soos Ps 24 sê, ons werke, ons omgang met die Here se goed tog nie onbelangrik en nikswerd en net ‘n middel tot ‘n doel kan wees nie.

Ons almal ken, dink ek, stories soos díe een wat Prof Schuurman vertel. Die jong dame wat by ‘n groot maatskappy in die stad werk en opgewonde vertel van die middaguur biduurtjie wat sy vir personeel begin het. Daar bid hulle saam en praat hulle oor die Here. En nou maak haar werk ook vir haar sin, voel sy die biduurtjie is eintlik die rede hoekom sy by die maatskappy moet werk. Of die rugbyafrigter wat vertel dat die rede waarom hy rugby afrig eintlik is dat sy hele span uiteindelik tot bekering sal kom. Die rugby is eintlik nie die rede waarom hy doen wat hy doen nie, dit is eintlik net ‘n bysaak, dit het net betekenis omdat dit vir hom ‘n geleentheid gee om met spelers oor Jesus te praat.

Julle sien, werk as sodanig het blykbaar niks, of bitter min, met die Here te doen.

Ek dink nogal dat die kerk bydra tot hierdie manier van dink. Die kerk fokus hoofsaaklik op wat in en deur die kerk gebeur, “meet” geestelike groei en toewyding dikwels aan die hand van betrokkenheid by die kerk en die aktiwiteite van die kerk ... terwyl die meeste van ons die totale meerderheid van ons tyd by ons werke spandeer.

Ons gesukkel om werk en ons lewens met die Here met mekaar te rym, het verskillende gevolge. Ek dink sommer net aan twee: Omdat ons nie weet hoe om te maak met ons lewe met die Here wat nie altyd klop met wat by die werk gebeur nie, lewe ons by die werk aan die hand van “common sense” (wat die Here mos darem vir ons gegee het?) en beteken “common sense” om te maak soos ons werksomgewing vir ons voorskryf, om te maak soos almal in die betrokke bedryf maak ... of dit in lyn is met die wil van die Here of nie. ‘n Tweede manier waarop ons ons onvermoë hanteer, is deur gewoon met verskillende stelle waardes te werk ... maar meerkere “knyp ons net ons oë toe”en gaan ons net aan asof werk en lewe met die Here eintlik nie regtig met mekaar te doen het nie ... want ons weet nie hoe om die twee volledig bymekaar uit te bring nie.

Interessant is hoe Paulus oor Ps 24:1 dink. Hy haal dit aan in 1 Kor 10:26. Die verband is min of meer dat dinge in die gemeente in Korinte nie loop soos dit veronderstel is nie. Meerkere maak die mense net soos wat hulle wil. Hier gaan dit veral oor ‘n vraag of christene vleis mag eet wat aan afgode geoffer is en terwyl Paulus hierdie vraag beantwoord, laat dit hom blykbaar ook dink aan die situasie in die gemeente wat die optrede van mans en vrouens aanbetref. Sy vertrekpunt in wat hy vir hulle sê, is dat alles en almal aan die Here behoort (1 Kor 10:26), waaruit byvoorbeeld voortvloei dat God die Hoof is (1 Kor 11:3), dat die Here bepaal hoe die lewe inmekaarsteek (1 Kor 11:11) en dat alles uit God is (1 Kor 11:12) en die implikasie hiervan, die effek wat dit in hulle lewens behoort te hê of veronderstel is om te hê, kry ons in 1 Kor 10:31 – Of julle eet of drink of wat julle ook al doen, doen alles tot eer van God. Omdat alles aan die Here behoort, daarom moet die gerigtheid van alles wat mense doen, Gód wees, nie ék en waarvan ék hou of wat ék aanvaarbaar of moontlik of gemaklik vind of waarvan my omgewing hou nie, maar die Here! Dat alles en almal aan Hom behoort en ek daarom alles wat ek doen tot sy eer doen, gerig op Hom doen, bepaal my optrede wanneer afgodsoffervleis vir my aangebied word en hoe oor mans en vrouens se optrede in die gemeente gedink word.

In Kol 3:22,23 waar Paulus ‘n soortgelyke uitspraak maak as in 1 Kor 10:31, praat hy nie van “doen alles tot eer van God”nie, maar van “werk met ‘n opregte hart uit eerbied vir die Here” (22) en van “doen dit van harte soos vir die Here” (23). Tot eer van God, kan verstaan word as (of het te doen met) “eerbied vir die Here” of as “soos vir die Here”. Hierdie “soos vir” moet nie gelees word as “asof” en verstaan word as dat ons dit moet doen asof ons dit vir die Here doen terwyl ons weet dis nie regtig so nie, dis net asof of ons dit so doen nie. Die bedoeling is nie asof vir die Here nie, maar gewoon “vir die Here”. Omdat alles aan die Here behoort, sy eiendom is, pas dit by ons om alles wat ons doen vir Hom te doen. Dít is ons vertrekpunt in alles wat ons doen en kom ons verstaan dit so konkreet as wat dit bedoel is om verstaan te word.

Dus: Wanneer jy iemand se belastingopgawe moet voorberei, of vir ‘n kliënt bouberekeninge moet doen, of haar motor moet versien, doen jy dit nie vir hom of vir haar nie, maar vir die Here. Sien die Here aan die ander kant van die tafel sit.

Regtig? Ja, laat dít ons vertrekpunt wees.

Dat jy dit vir die Here doen en só bewus is van die Here, beteken nie dat Hy oor jou skouer loer om te kyk of jy dit reg doen en of jy eerlik is, of jy dit op ‘n christelike manier doen nie. Hoe doen ‘n mens in elk geval op ‘n christelike manier berekeninge, of hoe vlieg ‘n vlieënier christelik? Nee, jy doen alles wat jy doen vir Hom omdat alles aan Hom behoort, sy eiendom is.

Só word sy koninkryk gebou ...

Dat jy alles wat jy doen vir die Here doen, beteken jy doen dit nie vir iets of iemand anders nie: Nie vir jou werkgewer of die kliënt of met die oog op bevordering of ‘n bonus of dankie of erkenning nie. Jy doen dit ook nie om die wêreld te verander of ‘n impak te maak nie. Jy doen dit vir die Here aan Wie alles behoort en as Hy dit wat jy doen, wil gebruik om die wêreld te verander of sy koninkryk te laat kom, is dit goed só. Maar jý doen dit gewoon vir Hóm.

Kan jy dit nie vir die Here doen nie, omdat Hy nie die soort sake doen waarmee jy jou besig hou nie, dan los jy dit. Sulke soort werk het nie ‘n plek op God se aarde nie.

Ek vermoed dat hierdie vertrekpunt ‘n effek sal hê op hoe ons doen wat ons doen, maar ook op wat ons doen.

Maar sal iemand dit ooit agterkom, agterkom dat jy jou werk nie maar net doen nie, maar dit vir die Here doen? Onthou dat jy dit mos nie doen sodat iemand dit moet agterkom nie. Jy doen dit mos vir die Here. Tog lyk dit vir my dat wanneer jy iets vir die Here doen, word Hy sigbaar en kenbaar, stel Hy Homself daardeur bekend, word Hy uiteindelik geken as die Een aan Wie alles en almal behoort. Wanneer jy wát jy ook al doen vir die Here doen, werk Hy deur jou en dít het allerhande gevolge ...

Martin Luther het byvoorbeeld soos volg daaroor gepraat: Die Here belowe (byvoorbeeld in ‘n hele paar psalms) om vir ons te sorg, vir ons kos te voorsien. Wanneer daar dan in die oggend soos elke ander oggend ‘n brood by jou deur afgelewer word deur ‘n ongeskoolde werker op ‘n fiets, is hy – soos die bakker wat die brood gebak het – besig om God se werk te doen. God voer sy beloftes deur hierdie mense uit. Nou is my werk nie maar net nog ‘n werk nie, nie maar net ‘n manier om geld te verdien om te oorleef nie. Wat ek doen, doen ek vir God en deur my voer Hy sy beloftes uit, bou Hy sy koninkryk. En ek word wie ek bedoel is om te wees, die beeld van God, iemand wat die skepping bestuur soos die Here dit net na die skepping en voordat die sonde gekom het aan my gegee het om te doen. En nou is geen werk meer onbelangrik nie. Werk is ‘n hoë roeping waarvoor ek aan God verantwoordelik is. Omdat ons wat ons ook al doen vir God doen, is daar nie meer plek vir verveling of korrupsie nie.

Wat van ambisie? Sal dit nie verdwyn as my vertrekpunt is om alles vir God te doen eerder as vir myself en my toekoms nie? Inteendeel ... ek werk tog vir veel meer as my toekoms ... ek dien vir God ...

Jy weet darem nie? ... of hierdie nie heeltemal oorvereenvoudig is nie? ... of dit regtig só gedoen kan word nie?

Om só oor ons werk(e) te dink, is vir seker ‘n uitdaging wat vra vir veel meer gesprek as net hierdie een van vandag, maar dit is die moeite werd om ten minste hieroor te dink, want hiervoor is ons geskep. Só word ons wie ons bedoel is om te wees, maar veel meer nog, só word God verheerlik, geken, aanbid, gedien.